

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 September 2010
‘n Vermeende koperkabeldief se lewe het tot ´n gruwelike einde gekom, toe hy doodgeskok is terwyl hy vermoedelik probeer het om koperkabels te steel op die plaas Grasmere sowat 30km uit op die Louis Trichardt/Levubu-pad.
Die lewelose liggaam van die 31-jarige Leonard Themba Maluleke is vroeg verlede Woensdagoggend deur die plaasbestuurder gevind. Langs hom het ´n tang en ystersaag gelê, naby ´n toegespande transformator. Brandwonde was oor sy hele lyf sigbaar.
Die Makhado polisie het vinnig op die noodroep reageer en het saam met die lede van die Soutpansberg Plaaswag en munisipale amptenare op die toneel gearriveer.
By nadere ondersoek het dit geblyk dat Maluleke eers ‘n gat in die heining rondom die transformator gemaak het, waarna hy teen die elektriese paal opgeklim het om die boonste kragkabels by te kom. Hy is dood nadat hy aan van die lewendige kabels geraak het en sowat 22 000 volt deur sy liggaam geruk het. Maluleke het daarna grond toe getuimel en kop eerste geland.
Na ´n vlaag koperdraaddiefstalle in die streek die afgelope tyd, het min enige simpatie met Maluleke se dood gehad. Een omstander het gesê hy hoop Maluleke se dood sal voornemende kabeldiewe afskrik. Nog een het die hoop uitgespreek dat die polisie verdere arrestasies in verband met die diefstalle sal maak, aangesien Maluleke heel moontlik nie alleen gewerk het nie.
Mnr. Jacques Bouwer, veiligheidskoördineerder van die Soutpansberg Plaaswag, het bevestig dat kabeldiefstal die afgelope tydperk begin hande uitruk het. Plaaswaglede het ´n tyd gelede hul patrollies begin verskerp, wat in ´n groot mate die koperdiewe verdryf het. Die installasie van bondelgeleiers, volgens Bouwer, het ook bygedra tot hul sukses. “Sowat drie weke gelede het koperdiewe egter weer hul koppe begin uitsteek,” het Bouwer gesê. Volgens hom is daar reeds ses gevalle by die plaaswag aangemeld net vir Augustus alleen.
“Die mense besef nie watter verreikende gevolge kabeldiefstal het nie – nie net vir boere nie, maar vir die hele gemeenskap. ‘n Dief dink nie daaraan dat die koper waarvoor hy hoogstens R300 kry, skade van tussen R12 000 en R18 000 aanrig nie,” het Bouwer gesê.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag gesê die polisie het ´n geregtelike doodsondersoek geloods na die omstandighede wat gelei het tot Maluleke se dood.
"Al die leidrade sal opgevolg word om vas te stel of Maluleke verbind word met die ander kabelsake,” het Sadike gesê.
Intussen het die polisie Sondag op inligting gereageer en nog ‘n kabeldief gearresteer. Die vermoede bestaan dat hierdie man saam met Maluleke gewerk het. Teen druktyd moes die man nog in die hof verskyn.

ADVERTISEMENT:
