

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 September 2010
Terwyl dele van Louis Trichardt die naweek weer sonder ‘n druppel water uit die krane moes klaarkom, is daar sakepersone wat daagliks onnodige onkostes het as gevolg van langdurige waterprobleme.
Me. Sanri du Plessis, optometris en eienaar van SpecSavers, se gamma elektroniese snymasjien, waarmee hulle lense sny, kan nie werk sonder water nie. Die masjien het gebreek as gevolg van die gebrekkige watertoevoer.
“Die masjien is nie gemaak met ‘n sensor wat aanskakel as die water op is nie en my duur masjien moet reggemaak word. Ons moet al ons snywerk Johannesburg toe stuur, teen baie onnodige onkostes. Ons sukkel al agt maande met water by die besigheid,” het me. Du Plessis gesê.
SpecSavers in Kroghstraat het gemiddeld twee ure water op ‘n dag. Buiten die duur masjien wat gebreek het, is daar nog die probleem van die toilette en die kwaliteit van die water. “Dit is ‘n gemors. Ons moet ‘n hele kan water gaan koop om die toilet te spoel. As daar water uit die kraan kom, vrot dit ook - jy kan nie eers koffie daarmee maak nie,” sê du Plessis.
SpecSavers sê dat hulle die probleem gereeld geraporteer het en veral aan die begin ‘n groot lawaai gemaak het.
“Die telefoniese antwoord by die munisipaliteit was elke keer, ‘Dit is ‘n probleem. Ons werk aan die probleem,’“ sê du Plessis.
By navraag het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê dat die munisipaliteit nie bewus is van SpecSavers se probleem nie en dat hulle dalk ‘n probleem in hul onmiddellike omgewing ondervind wat nie die hele dorp affekteer nie.
Die gebrek aan water op Saterdag en Sondag het definitief die dorp geaffekteer. Teleurgestelde inwoners kon nie hul storte gebruik of wasgoed was nie. Een inwoner sê dat sy Sondag heeltemal laat was vir kerk omdat sy eers hulle waswater moes verwarm. Dit is nou te sê as daar ‘n alternatiewe bron van koue water was. Diegene wat nie water opgegaar het nie, het nie drinkwater gehad nie. Volgens Bobodi was die gebrek aan water as gevolg van ‘n probleem by pompstasie 2, wat sowat 6km uit die dorp op pad na die Albasinidam geleë is.
Volgens inligting het pype daar gebars en is die probleem nog nie heeltemal opgelos nie. Wat verder aanleiding gegee het tot die naweek se waterprobleem, is ‘n gebarste pyp in die omgewing van Vleistraat. Die water wat daar uitgelek het, het veroorsaak dat die reservoirs se watervlak te laag gedaal het om water te voorsien. Teen Sondagoggend is die lek gekry en heelgemaak, waarna die vlak in die reservoirs weer moes styg. Telkens wanneer water verlore gaan as gevolg van defektiewe pompe of deurgeroeste pype, is daar noodwendig minder water vir die verbruikers beskikbaar.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
