ADVERTISEMENT:

 

Arbeiders verwilder grondeisers

 

News  Date: 10 September 2010

 

Dit is nie sommer net van kom vat nie! Dit was die duidelike boodskap wat deur ‘n groep van sowat 100 plaasarbeiders aan twee verteenwoordigers van die Grondeisekommissie se kantoor in Polokwane gerig is, tydens ‘n inspeksiebesoek van ‘n plaas op Levubu.

Die twee verteenwoordigers het verlede Donderdag op die plaas Versameling van Waters van mnr. Robbie Robberts opgedaag, maar moes noodgedwonge die plaas stert tussen die bene verlaat, nadat hulle hul vasgeloop het teen ‘n groep ontstoke plaasarbeiders. Robberts besit gedeelte 6, 5 en 2 van die plaas en boer sedert 1974 op die grond.

Dié hele “onderonsie” het egter ‘n aanloop gehad.

Robberts sê hy het sowat vyf jaar gelede ‘n vergadering van die Grondeise Kommissie op Louis Trichardt bygewoon rakende die eis op die betrokke plaas. Tydens die vergadering is hulle ingelig dat die plaas opgeëis word deur die “Mapakati” en “Masias” gemeenskappe. Volgens die Grondeisekommissie sou hulle sommer binne drie maande die plaas besoek vir ‘n waardasie, maar, soos Robberts sê, dit was weer ‘n geval van baie praat en niks gebeur.

Jare het verbygegaan. So ongeveer twee maande gelede is Robberts egter kort-kort lastig geval deur ‘n groep mense wat die plaas wou kom “inspekteer”. Toe hy vir hulle vra wie hulle is, het hulle hulself as die “Mashavhela” gemeenskap geïdentifiseer.

“Dit is nou ‘n nuwe lot,” sê Robberts. Nugter weet wat het intussen van die Mapakati- en Masias-eisers geword ...

“Elke slag het ons vir hulle gesê totsiens, loop. As julle enige iets wil praat, gaan na die Grondeisekommissaris toe. Dan praat julle deur hom. Ons praat nie met julle nie,” het Robberts gesê.

En so wrintiewaar, so drie weke gelede daag daar toe mos twee vroue van die Grondeisekommissie op die plaas op, blykbaar om saam met die “Mashavhelas” die plaas te kom inspekteer.

Robberts het gesê hulle is welkom om sy plaas te kom inspekteer, maar dat dit op sy voorwaardes sal plaasvind. Die voorwaardes het ingesluit dat die afvaardiging mag bestaan uit twee verteenwoordigers van die Grondeisekommissie en vier lede van die Mashavhela-gemeenskap. Daar is besluit dat die besoek op 2 September sou plaasvind en die groep is daar weg.

In hierdie stadium het Robberts se werkers met vrae in die gemoed nader gestaan.

“My arbeiders het my kom vra wie hierdie mense is,” sê Robberts. Toe verduidelik Robberts vir hulle.

“Hulle vra toe vir my wat beteken dit. Ek sê toe vir hulle dat as hierdie mense se eis aanvaar word, beteken dit dat die grondeise kommissaris hierdie plaas by my kan koop. Hulle wou toe weet wat van hulle dan? Toe sê ek nee, van julle weet ek nie. Al wat ek vir julle kan sê is dat as hulle die plaas by my uitkoop, vat ek die geld, my klere en meubels en ek is weg. Dan los ek julle hier alleen en julle sal dan maar verder aangaan met die nuwe eienaars van hierdie plek,” vertel Robberts. Hiervan wou sy plaaswerkers egter niks weet nie.

“Hulle sê toe vir my dit kan nie so werk nie. Al die grond wat in die hele Levubu verkoop is, is op ‘n agteruitgang. Daar gaan niks meer aan nie. Niemand werk meer daar nie. Die duisende mense wat daar gewerk het, het nie meer werk nie en hulle sal dit nie toelaat nie,” vertel Robberts. Robberts het toe voorgestel dat sy werkers hul besware moet bespreek met die Grondeise-mense, wanneer hulle weer op 2 September sou kom.

So besluit, so gedoen. Skaars was die twee vroue van die Grondeise Kommissie en hul vier gemeenskapslede op die plaas, of die plaasarbeiders het hulle genader vir ‘n spreekbeurt.

“Hulle het nie gespring en gedans nie. Hulle het niks gedoen nie. Hulle het ‘n ordentlike gesprek gehad met hierdie mense ... Hierdie mense van my het vir hulle gesê ‘as hierdie witman hier weggaan, dan is die werk hier klaar. Dan het ons nie verder werk nie ... ons is baie jammer, ons laat julle ongelukkig nie op hierdie plaas toe nie’,” sê Robberts. Die arbeiders het ook sommer die afvaardiging aangeraai om nooit weer na die plaas toe te kom nie.

In hierdie stadium, sê Robberts, het een van die grondeise-vroue opgemerk dat sy kan sien dat Robberts sy arbeiders beïnvloed het om die uitlatings te maak. Dit het egter die arbeiders verder omgekrap en hulle het luidkeels uitgeroep dat dit bloot eenvoudig nie waar is nie.

“Ek het vir haar [grondeise vrou] gesê dit is haar persepsie, maar dit ‘n baie ver van die waarheid. Ek het gesê dat al wat hierdie mense wil doen is om hul belange te beskerm. Belange wat hulle oor 30 jaar opgebou het,” sê Robberts.

Kort daarna is die afvaardiging van die plaas af.

Oor die reperkussies van die voorval was Robberts Dinsdag baie kalm.

“Dit het gelukkig niks met my te doen nie. Ek het die Grondeise-mense toegelaat, maar my mense het hulle gekeer.”

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines