

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 September 2010
‘n Jong skoolmeisie van Louis Trichardt is erg getraumatiseer, nadat ‘n gewapende man haar verlede Vrydag in die middedorp met ´n vuurwapen gedreig het en vir haar gevra het of sy reg is om dood te gaan.
Heidi-Lene du Preez (15) het Maandag vertel hoe ‘n ongemaskerde man haar verlede Vrydag met ‘n vuurwapen gedreig het voor Tekkie Town in Songozwistraat.
Eers, vertel Heidi-Lene, was die man baie vriendelik met haar en het hy ‘n geselsie aangeknoop. Sy het vir haar suster, Elize-Marie, gewag terwyl sy ‘n paar skoene by Tekkie Town gaan omruil het, toe die drama ontvou het.
Die man, wat netjies geklee was, het Heidi-Lene die heeltyd in Engels aangespreek en haar ondere andere gevra wat haar naam en ouderdom is. Sy het begin ongemaklik voel toe die man vir haar gevra het of sy in die Here glo. “Hy het toe iets agter sy broek uitgehaal en by die kar se venster ingedruk. Ek het eers nie lekker besef dit is ‘n vuurwapen nie,” het Heidi-Line vertel.
Met die vuurwapen op Heidi-Lene gerig, het die man toe vir haar gevra of sy reg is om vandag dood te gaan. Hierna het hy kontant en voedsel geëis en vir Heidi-Lene gesê as sy nie help nie, gaan hy haar beslis van kant maak.
“Hy het vir my sussie se handsak gevra, toe gee ek dit maar vir hom – ek was baie bang ... ek het skoon gebewe.” Doodkalm het die man egter vir Heidi-Lene gesê sy moet nie die handsak so haastig aangee nie, maar dit weer vat en vir hom aangee asof “hy haar vriend is.” Die man was blykbaar woedend toe hy nie enige kontant in die handsak kon kry nie en het weer vir Heidi-Lene begin dreig.
Net toe het Heidi-Lene ‘n boodskap op haar selfoon ontvang en die man het haar beveel om die selfoon en alles in haar sakke in die handsak te sit. “Hy het bly vra vir kos of geld. Terwyl ek my selfoon in die handsak gesit het, het Elize-Marie terug gekom en ek het toe vir hom gesê dat sy vir hom geld sal gee vir kos.” Hierop het die man die handsak op haar skoot gegooi en ewe doodluisters begin wegloop.
Elize-Marie het die man voorgekeer, waarop hy geantwoord het dat hy net met Heidi-Lene gesels het. “Ek het gedog hy ken haar, dit was eers toe ek weer langs haar in die kar sit dat ek sien daar is groot fout.” Elize-Marie het eers haar man, wat ‘n polisieman is, gebel met die nuus voordat sy die polisie se noodnommer gebel het. “Daar was ongelukkig nie antwoord by die nommer nie,” het Elize-Marie vertel.
Terwyl hulle nog aangehou het vir die polisie, het hulle die man op ‘n afstand agtervolg. Die man het om die hoek van die straat geloop en by die parkeerarea van Woolworths hulle ontglip. Heidi-Lene was so getraumatiseer dat Elize-Marie verplig was om haar vir berading te vat. Teen Maandag het dit darem al weer beter gegaan en moes Heidi-Lene nog ‘n klag open.

ADVERTISEMENT:
