

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 September 2010
Wihan Pieterse was skaars terug by die huis, toe is dit klaar terug hok toe met hom.
Die 13-jarige Wihan van Louis Trichardt is verlede Woensdag uit die hopsitaal ontslaan, nadat hy sy nek beseer het in ‘n fratsongeluk. Hy moes vir ses dae in die MediClinic in Polokwane se hoësorgeenheid oorbly, terwyl dokters vir hom ‘n bors- en nekstuk gemaak het. Dit was nadat daar van sy nekwerwels geskuif het, terwyl hy probeer het om toertjies te doen op ‘n trampolien. Die werwels het só geskuif, dat dit teen die rugmurg druk. As die werwels nog verder skuif en die rugmurg binnedring, kan dit beteken dat hy verlam word.
Wihan mag die borsstut net vir ´n uur lank per dag afhaal om te bad en selfs dan moet hy nog steeds die nekstut aanhou. Dokters het op die stut besluit as alternatief vir ´n operasie. Wihan sal vir die volgende ses weke met die ongemaklike stut oor die weg moet kom. As alles goed verloop, sal die stut help om die werwels weer terug in hulle regte plek te "trek."
Wihan is Maandag weer terug skool toe. Pa Marius en ma Sonja is egter saam om vir die kinders te verduidelik waarom Wihan hom stil moet gedra en waarvoor die stut is. Na skool het hy gou ‘n breek gevat om met die Zoutpansberger te gesels. Hy was besig om vir eksamen, wat Dinsdag begin het, te leer.
Die ergste, sê Wihan, was al die ekstra aandag wat hy gekry het met sy aankoms by die skool.
“Behalwe vir al die drukkies wat ek gekry het . Dit was lekker,” het hy effens skaam erken.
Danksy ‘n strawwe kursus kortisoon wat Wihan in die hospitaal ontvang het om swelling en bloeding teen te werk, het hy ‘n gesonde eetlus.
“Ek bly honger van die medisyne.”
Volgens Sonja gaan dit onder die omstandighede baie goed met hom en glo Wihan dat daar vir hom ander deure oopgemaak sal word.
“Daar was maar baie trane oor die rugby, maar hy het vir my gesê hy weet daar wag ander dinge vir hom en hy weet daar sal nuwe deure oopgaan,” het Sonja gesê.
Wihan se positiewe houding het die hele familie aangesteek en hulle tel die dae af tot en met sy opvolgbesoek, wanneer daar weer X-strale geneem sal word om te kyk of die stut werk.
Sonja en Marius het weereens die gemeenskap bedank vir al hulle oproepe van belangstelling en ondersteuning.
“Bowenal bedank ons ons Hemelse Vader dat hy Wihan gespaar het. Ons is positief dat dinge net beter sal gaan.”

ADVERTISEMENT:
