ADVERTISEMENT:

 

Flink optrede van boere lei tot arrestasie

 

News  Date: 10 September 2010

 

Die flink optrede van lede van die Albasini en Beja Plaaswag het verlede Woensdag (1ste) gelei tot die arrestasie van ‘n vermeende koperkabeldief.

Boere in hierdie gebied word die afgelope tyd geteister deur koperkabeldiewe. Die arrestasie van die man volg presies ‘n week nadat ‘n vermeende dief homself doodgeskok het in dieselfde area, nadat hy vermoedelik probeer koperkabel steel het. Op een plaas in die area was daar vier koperkabeldiefstalle in een maand.

Mnr. Jacques Bouwer van die Beja Plaaswag het gesê dat kabels weer verlede Woensdagnag gesteel is.

“Die plaaswagte is in kennis gestel en almal is gevra om op die uitkyk te wees vir die diewe. Van die plaaswerkers het Vrydagoggend op ‘n gedeelte van die plaas beweeg en drie persone gesien wat swaar sakke gedra het,” sê Bouwer.

Alarm is gemaak en die plaaswerkers het ‘n kordon rondom die gedeelte van die plaas gevorm. Intussen het Bouwer en mnr. Fritz Ahrens die gebied gefynkam. Een vermeende dief is gevang met koperdraad wat ooreengestem het met dit wat gesteel was. Kort daarna is die vermeende dief aan die SAPS oorhandig.

Bouwer het die hoop uitgespreek dat geen borg aan die vermeende dief toegestaan sal word nie, veral nie as dit ‘n immigrant is nie.

Die onderwerp van kabeldiefstal en die dramatiese effek op voedselsekerheid is met die LUR van Veiligheid en Sekuriteit, mnr. Dikeledi Magadzi, bespreek. Die vergadering tussen Magadzi en die Veiligheidskomitee van TLU SA Noord het op 24 Augustus plaasgevind. Tydens dié vergadering is versoek dat ‘n spesialis-eenheid op die been gebring moet word om die diefstal aan te spreek.

Intussen het die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Stephen Hoffman, die Albasini en Beja Plaaswag gelukgewens met die aankeer van die vermeende dief. In die lig hiervan het hy gesê dat diewe besig is om Suid Afrika bankrot te steel.

“Geen land in die wêreld kan ekonomies vooruitgaan met so ‘n kanker wat voortwoed nie. Die nuwe wet op die beheer van tweedehandse goedere behoort ‘n uitwerking te hê indien die SAPS dit genadeloos toepas,” het Hoffman gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines