

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 September 2010
Nog ‘n persoon is die afgelope week op Musina gearresteer op klagte wat verband hou met die besit en verkoop van renosterhorings sonder toestemming of die nodige permitte.
Die 51-jarige Tom Fourie is op Donderdag, 9 September, gearresteer en het dieselfde dag in die landdroshof op Musina verskyn op klagte wat verband hou met die besit en verkoop van tientalle renosterhorings. Hy is op R5 000 borg vrygelaat, nadat sy saak tot 1 Oktober uitgestel is vir verdere ondersoek.
Volgens inligting was Fourie vir jare lank werksaam as bestuurder van ‘n 40 000ha reservaat net wes van Musina. Die reservaat behoort aan ‘n Deense groep.
Teen druktyd was weinig inligting beskikbaar oor die omstandighede wat gelei het tot Fourie se arrestasie. Daar is wel genoem dat die ondersoek tans in ‘n sensitiewe stadium is. Meer arrestasies word verwag.
Fourie se arrestasie kom te midde van ‘n landswye aksie om die probleem van onwettige renosterjag in Suid-Afrika uit te lig. So het die radiostasie Jakaranda 94.2 verlede week ‘n weeklange bewustheidsveldtog gehou waartydens luisteraars donasies kon maak om te help in die stryd teen renosterstropery. Meer as R1 miljoen, asook R500 000 se toerusting, is met die projek geïn.
Fourie se arrestasie volg slegs twee dae nadat vyf ander vermeende wilddiewe van die Soutpansberg-omgewing in die hof op Lephalale verskyn het op klagte van die onwettige jag van renosters op Exxaro se Ferrolands wildsplaas, asook die besit van ‘n onwettige vuurwapen.
Die vyf, Patricia Mukwhevho (30), Secret Kutama (29), Rhinus Makhado (28), Louis Msekwa (31) en Abram Kgalushi (33), almal van Venda, is elk borgtog van R10 000 toegestaan. Hul saak is uitgestel tot 1 November. Borg is toegestaan na twee dae se getuienis deur die ondersoekbeampte in die saak, sers. Danie Erasmus. Hy het getuig dat die .308 geweer wat die verdagtes gebruik het, moontlik verbind kan word met insidente in die Louis Trichardt- en Vivo-omgewing waar renosters met dieselfde kaliber geweer deur wilddiewe geskiet is. Die wapen is weggestuur vir ballistiese toetse.
Onwettige renosterstropery het sedert die begin van die jaar krisisafmetings in Suid-Afrika aangeneem. Byna 200 renosters is hierdie jaar reeds vir hul horings uitgemoor, baie van hulle in die Limpopo Provinsie. Op plaaslike bodem word daar tans vyf sake (drie vir Louis Trichardt en twee vir Musina) in die hof aangehoor. Buiten vir Fourie se saak, wat waarskynlik na die streekhof op Louis Trichardt oorgeplaas sal word, sal twee afsonderlike sake van onwettige renosterjag onderskeidelik op 4 en 14 Oktober in dieselfde hof aangehoor word. Beide laasgenoemde twee sake hou verband met onwettige renosterjag in die Kruger Nasionale Park.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
