ADVERTISEMENT:

 

Telkom weier om lyne te vervang

 

News  Date: 17 September 2010

 

Bo en behalwe stygende lewenskostes, moet vuisvoos verbruikers nou ook gebuk gaan onder kabeldiefstal – ‘n verskynsel wat weer onlangs dramaties toegeneem het in die Soutpansbergstreek.

Sowat 30 inwoners, meestal van die Southdown-plotte, sowat 3km uit op die Levubu-pad, is gestrand nadat Telkom weier om gesteelde kabels te vervang. Hierdie toedrag is nie ´n nuwe verskynsel vir die inwoners nie, maar in die verlede het Telkom immers die drade weer vervang.

Hierdie keer is almal egter wreed ontnugter toe Telkom net bloot geweier het om die drade te vervang. Tot party van die verbruikers se ontsteltenis het hulle nog steeds ‘n maandelikse rekening ontvang.

Een inwoner, me. Inalize Burger van plot nr. 1B, het ‘n lys van al die geaffekteerde Telkom-gebruikers se name verskaf. Inalize het self ook haar foutiewe lyn op Donderdag, 19 Augustus, aan Telkom gerapporteer.

Leë beloftes is egter al wat sy vanaf Telkom-beamptes ontvang het. Ná talle opvolgoproepe, het ‘n outomatiese antwoordstelsel op Telkom se 10212-nommer haar saaklik meegedeel dat die kabels al 64 keer gesteel is en nie weer vervang gaan word nie. Hierdie boodskap is intussen verander om te sê dat Telkom bewus is van die probleem en dat daar dringend ondersoek ingestel is na alternatiewe tegnologie om die lyn te herstel.

Dit was die antwoord wat al die geaffekteerde Telkom-kliënte gekry het.

Telkom se nasionale woordvoerder, mnr. Pynee Chetty, was by navraag vinnig om die blaam op die polisie af te skuif.

“Ons is nie verantwoordelik vir polisiëring nie,” was sy verduideliking. Hy het bygevoeg dat in gevalle soos dié van Southdown, dit "standaard prosedure´"is om nie die lyne te vervang nie en eerder na alternatiewe oplossings te soek.

“Kabeldiefstal is vir Telkom net so ‘n groot kopseer as vir die verbruiker.”

Volgens Chetty is die enigste oplossing vir die area om van Telkom se draadlose diens gebruik te maak. Hierdie diens is egter nog nie beskikbaar vir die Soutpansberg-area nie, en Chetty kon ook nie ‘n aanduiding gee of daar sulke toekomsplanne is nie.

“Ek kan al die klaers se besonderhede aan ons kliëntediens-afdeling gee om verder te ondersoek.” Volgens Chetty hoef kliënte gelukkig nie te betaal vir die onbruikbare lyn nie. “In die geval van kabeldiefstal word kliënte se lynhuur automaties gekrediteer op hulle rekening. Alternatiewelik kan hulle ons rekeningafdeling skakel, by tel. 10210, om uit te vind oor hul krediet.”

Intussen het die Soutpansberg Distrik Landbou-unie hulle stem dik gemaak oor die dreigende krisis wat kabeldiefstal vir die streek inhou. Daar is op Dinsdag, 24 Augustus, ‘n dringende vergadering met die LUR van Veiligheid, Sekuriteit en Skakeling, mnr. Dikeledi Magadzi, gehou om die saak te bespreek. Tydens hierdie geleentheid is daar is ‘n versoek aan die LUR gerig om ‘n spesialis-eenheid op die been te bring, sodat die diefstalle aangespreek kan word. Moontlike polisie-betrokkenheid by die steel van die koperdraad is ook tydens die vergadering bespreek.

“Die vraag bly waarom die SAPS so min sukses met die misdaad behaal? Is dit doodgewoon onbekwaamheid, onwilligheid of is sommige lede van die SAPS betrokke?” was die voorsitter, mnr. Stephen Hoffman, se vraag.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het egter sulke gerugte ten sterkste ontken. “Ons as polisie gaan tot die uiterste om die misdadigers vas te trek, maar ons hande is afgekap as hulle op borg vrygelaat word en verdwyn, om dan dikwels weer van voor af te begin kabels steel,” het hy gesê.

"Intussen verloor ek besigheid omdat my Telkom-lyn nie werk nie en trek almal maar net skouers op," was nog ´n moedelose inwoner se opmerking.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines