ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Nico Esterhuizen was briesend nadat hy verlede Dinsdag ‘n buiteband en wielvelling van sy luukse motor op die Levubu-pad afgeskryf het.

Inwoners boos oor Levubu-padwerke

 

News  Date: 17 September 2010

 

Alhoewel talle padgebruikers verheug is oor die herstelwerk wat gedoen word aan die Louis Trichardt/Levubu-pad, is daar net soveel motoriste wat boos is oor die wyse waarop die pad herstel word.

Daar heers veral groot kommer oor die veiligheid van motoriste wat van hierdie pad gebruik moet maak. Die Zoutpansberger is oorval met talle klagtes van motoriste wat meen daar is geen veiligheidsmaatreëls in plek om motoriste te waarsku van die padwerke nie. Die plaaslike Departement van Paaie en Vervoer het egter verlede week sulke klagtes afgemaak en gesê dit is “motoriste wat padtekens en –reëls verontagsaam en onverskillig jaag op die pad.”

Een só ´n ontstokke motoris, mnr. Nico Esterhuizen, was briesend nadat hy verlede Dinsdag ‘n wiel van sy luukse motor afgeskryf het. “So kan dit nie aangaan nie! Iemand gaan nog hulle lewe verloor op daardie pad,” het hy gesê. Esterhuizen was die vorige dag op pad terug na Louis Trichardt, toe hy deur ‘n ongevulde gat gery het. Die slag het sy wielvelling al langs die binnekant oopgeskeur. Dit sal hom sowat R4 500 kos om te vervang.

Nog motoriste het gekla dat daar min tot geen waarskuwingsborde aangebring word nie en dat hulle derhalwe nie weet wat om te verwag nie. Gemoedere loop veral hoog nadat daar ‘n lang stuk van die teerpad, net voor die eerste brug buite Louis Trichardt, vir etlike meters opgegrawe is. Die ruwe grondpad het tot gevolg dat meeste motoriste eerder oorbeweeg in die baan vir aankomende verkeer wat nog geteer is.

“In die aande pak die werkers eenvoudig net op – borde en al – dus weet mens nie waar hulle die volgende gat gegrawe het nie,” het een motoris vertel. Naweke word daar glo ook nie waarskuwingborde aangebring nie en uitgrawings word oopgelos.

Hierdie bewerings is ten sterkste ontken deur die departement se plaaslike bestuurder, mnr. Michael Rademeyer. Volgens Rademeyer kan dit gebeur dat die waarskuwingsborde omwaai of selfs gesteel word.

“Daar is waarskuwingsborde langs die pad en dit word nie afgehaal in die aand òf oor naweke nie,” het Rademeyer gesê. Die rede vir ongevulde gate, volgens Rademeyer, is wanneer daar ‘n tekort is by die asvaltfabriek. “Daaroor het die kontrakteur geen beheer nie en hy moet wag tot sy asvalt opdaag, voordat hy die gat verder kan herstel.”

‘n Raadgewende ingenieur betrokke by die padwerke, mnr. Danie du Toit, het motoriste gewaarsku: “Padwerke is lewensgevaarlik en dit is ‘n kwessie van elke ou vir homself. As motoriste nie die spoedbeperking van 30km/h nakom nie, voorsien ek lewensverlies,” het hy gesê. Hy het ook ‘n beroep gedoen op motoriste om stadig verby padwerke te ry en geduldig te wees.

“Net verlede week het ‘n ongeduldige ou my amper raakgery terwyl ek vir hom beduie het om versigtig te ry,” het hy vertel. Volgens Du Toit sal die padwerke nog voortduur tot einde Oktober.

Vir motoriste wat skade aan hulle voertuie opgedoen het, is daar gelukkig uitkoms – daar kan ‘n skadevergoedingseis by die departement ingedien word. Intussen het van die motoriste hul dankbaarheidheid uitgespreek, nadat daar Maandag “vir die eerste keer” waarskuwingborde in die aand langs die pad gelos is.

Die plaaslike tak van die Demokratiese Alliansie beskou ook die algehele toestand van die pad as ‘n dreigende krisis. Daar is ‘n petisie van stapel gestuur om die departement so ver te kry om dadelik aandag aan die pad te gee, veral wat die toestand van brûe op die pad betref.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines