ADVERTISEMENT:

 

Dian met die SMS waarin sy glo die gelukkige wenner van R160 000 is.

Inwoners gewaarsku teen nuwe SMS-slenter

 

News  Date: 17 September 2010

 

Nadat ´n inwoner van Louis Trichardt so amper die slagoffer van ´n SMS-slenter geword het, het sy besluit om eerder die publiek te waarsku teen dié nuwe slenter.

Luidens dié SMS, wat me. Dian van der Merwe verlede week ontvang het, was sy die gelukkige wenner van R160 000. Haar selfoonnommer is glo deur LYCA Network gekies as deel van promosies wat in Suid-Afrika van stapel gestuur is. Verder het die SMS ‘n selfoonnommer verskaf wat Dian moes skakel met haar wen pin-nommer om sodoende haar prysgeld te eis.

So gesê, so gemaak en Dian het die selfoonnommer geskakel. Gelukkig vir Dian het haar skoondogter haar betyds gewaarsku om versigtig te wees.

“Sy het gelees van hierdie tipe slenters en my gewaarsku om nie enige persoonlike besonderhede uit te gee nie,” het Dian verlede week aan die Zoutpansberger vertel.

´n Ene Laura het die telefoon geantwoord en nadat Dian die wennommer verskaf het, het Laura haar gevra om weer terug te skakel "sodat die wennommer geverifieer kon word."

Met die terugbelslag is Dian gelukgewens met die prys wat sy gewen het - nieteenstaande die feit dat Dian se prysgeld toe met R10 000 verminder het.

“Dit het nie eens by my opgekom om te vra hoekom die bedrag minder is as wat in die SMS belowe is nie.”

Ná die gelukwense wou Laura Dian se bankbesonderhede hê om die geld oor te betaal. Gelukkig het Dian kopgehou en vir Laura gesê sy sal terugskakel met die bankbesonderhede. Toe Dian huiwer en vra of daar nie alternatiewe maniere is om die geld te oorhandig nie, wou Laura weet of sy dan nie bly is dat sy geld gewen het nie.

“Dit het net te goed geklink om waar te wees. Ek het vir haar gesê dat al die geld wat ek in my lewe gekry het, moes ek hard voor werk,” het Dian gesê.

Nadat Dian weer teruggeskakel het, het sy vir Laura gevra om eerder die tjek te pos.

Met al hierdie inligiting het Dian afgesit na die plaaslike MTN-tak om uit te vind of hulle bewus is van die SMS. Sy is dadelik deur die personeel meegedeel dat MTN nooit hulle kliënte op só ‘n wyse sal kontak nie. Hulle het haar aangeraai om liefs mense deur middel van die media te waarsku dat hulle onder geen omstandighede hul persoonlike besonderhede moet uitgee nie.

“Hulle het ook gesê dat dit net MTN-kliënte met Nokia selfone wat geteiken word.”

By nadere ondersoek kon daar egter geen rekord van ‘n maatskappy genaamd LYCA Network opgespoor word nie. Die Zoutpansberger het toe LYCA Network genader onder die dekmantel dat die koerant ook só ‘n SMS ontvang het.

‘n Ene Alie het geantwoord en dadelik gesê dat die koerant se gelukkige nommer nie bestaan nie. Alie het vies begin word toe die koerant aangedring het op bewyse dat hul maatskappy wel bestaan. Sy het ´n webadres aan die koerant verskaf en verduidelik dat hulle maatskappy ´n Nederlandse maatskappy is wat binnekort in Suid-Afrika gaan open.

"Ons gee die geld weg as deel van ´n bemarkingstrategie om onsself aan die publiek bekend te stel," het sy gesê.

Op ‘n vraag hoe hulle die "gelukkige wenners" kies, het Alie geantwoord dat dit van “die MTN-netwerk getrek word.”

Alie het die koerant bot meegedeel om die wennommer te verifeer en terug te skakel.

Nadat Alie in kennis gestel is dat hulle “uitgevang is” en dat die webadres wat sy verskaf het nie bestaan nie, het sy dadelik die foon vir ‘n onbekende vrou aangegee. Die vrou het woedend begin skreeu.

“Ons is ‘n wettige maatskappy en as jy nie deel wil wees van die promosie nie, moet nie weer hierdie nommer skakel nie,” het die vrou gesê en die foon neergegooi.

Teen druktyd het Dian nog nie ´n sent van haar beloofde geld van LYCA Network ontvang nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines