

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 September 2010
Edna Prinsloo, die 14-jarige meisie van Louis Trichardt wat moedig veg teen leukemie, is weer ´n slag by die huis.
Sy is op 1 September uit die MediClinic in Polokwane ontslaan, nadat sy ernstig siek was. Sy moes inderhaas na die MediClinic oorgeplaas word, nadat sy A-graad longontsteking opgedoen het.
Nadat Edna ontslaan is, is sy dadelik weer terug na haar onkoloog in Pretoria en teen verlede Maandag was sy weer terug op chemoterapie. Al waaroor haar dokters bekommerd was, was die skade wat haar lewer opgedoen het na al die behandelings wat sy ontvang het vir haar longontsteking. Edna sal ten minste nog vir ´n jaar maandeliks na Pretoria moet reis vir chemoterapie.
Die jong Edna is verlede jaar met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer. Nog effens aan die bleek kant was Edna egter weer haar vriendelike self en was sy vas van plan om so spoedig moontlik weer terug te gaan skool toe.
“Ek het baie inhaalwerk en ek dink ons het so ‘n paar toetse wat ons moet skryf,” vertel die blondekopmeisie, terwyl sy tussendeur aandag aan haar troeteldiere gee.
Edna se woef, Knoffel, en haar swart-en-bruin boerbok, Snoekie, was maar te bly om haar terug te hê by die huis en het haar opgepas, terwyl almal weer moes gaan werk of skool toe gaan.
“Ek het vir Snoekie gekry met een van my vorige chemo-behandelings,” vertel Edna. “Knoffel het ek nou al langer en hy het sy naam gekry omdat hy soos ‘n bondeltjie knoffel gelyk het toe hy klein was.”
Edna het klaar besluit dat sy eendag ‘n veearts wil word en een van haar gunsteling vakke op skool is juis biologie. Sy was verlede Donderdag weer terug op die skoolbanke.

ADVERTISEMENT:
