ADVERTISEMENT:

 

Die beskuldigdes: Dawie Groenewald (Beskuldigde 1), Sariette Groenewald (Beskuldigde 2), Karel Toet (Beskuldigde 3), Marisa Toet (Beskuldigde 4), Manie du Plessis (Beskuldigde 5), Nardus Rossouw (Beskuldigde 6), Tielman Erasmus (Beskuldigde 7), Leon van der Merwe (Beskuldigde 8), Dewald Gouws (Beskuldigde 9), Paul Matoromela (Beskuldigde 10) en Jacobus Marthinus Pronk (Beskuldigde 11).

Elf in hof oor renosters

 

News  Date: 24 September 2010

 

Regdeur die land gons die tonge ná die nuus van die arrestasie van elf verdagtes in verband met grootskaalse renosterstropery. Die elf het Woensdag in die hof op Musina verskyn te midde van landwye mediabelangstelling.

Veral in die Soutpansberg het mense met skok en verbasing gereageer, aangesien van die verdagtes welbekend is in die streek. Maandag is die eerste nege verdagtes aangekeer. Onder dié was bekende sakeman Dawie Groenewald (42) en sy vrou, Sariette (34), van Polokwane. Die Groenewalds is die eienaars van Out of Africa Adventure Safaris en is lede van die plaas Pragtig, wat as BK geregistreer is, naby Bokmakierie in die Musina-distrik. Dit is nie die eerste keer dat Groenewald met die gereg bots oor onwettige jagbedrywighede nie. Vroeër vanjaar is hy in ‘n hof in die VSA daaraan skuldig bevind dat hy ‘n luiperdtrofee, wat onwettig in Suid-Afrika gejag is, na Amerika uitgevoer het. Groenewald het agt dae agter tralies spandeer en was vir drie maande onder huisarres by sy broer in die VSA. Hy moes ‘n R255 000 boete betaal vir die invoer van die luiperdtrofee, asook R56 000 skadevergoeding aan die Amerikaanse jagter wat die luiperd geskiet het.

Tielman Erasmus (33), ‘n bekende professionele jagter van die streek is ook Maandag gearresteer, asook twee veeartse van Modimolle, Karel Toet (46) en Manie du Plessis (37). Toet se vrou, Marisa (38), is ook aangekeer. Die ander vier wat Maandag aangekeer is, was Nardus Rossouw (43), Leon van der Merwe (44) en Dewald Gouws (25). Gouws is ‘n vlieënier. Dinsdag het die aantal gearresteerdes gegroei na tien, met die arrestasie van Paul Matoromela (61). Tydens Woensdag se hofverrigtinge het die getal elf geword, met Jacobus Marthinus Pronk (48) wat sommer in die hofsaal gearresteer is. Al die arrestasies is op Musina, Polokwane en Modimolle uitgevoer.

Al elf verdagtes het Woensdag hul borgaansoeke gebring. Tot in daardie stadium was almal nog in aanhouding. Geen klagte is teen hulle gestel nie, alhoewel hul arrestasies verband hou met renosterstropery. Borg van R1 miljoen is aan Groenewald toegestaan. Sy vrou, Sariette, is gevra om R100 000 borg te betaal en dr. Toet R50 000. Borg van R20 000 is aan al die ander aangeklaagdes toegestaan, behalwe Matoromela wat R5 000 borg gekry het. Groenewald was van die eerstes om borg te betaal. Ure na die hofverrigtinge is bevestig dat al die beskuldigdes hul borggeld betaal het. As deel van hul borgvoorwaardes moes almal hul ID-boeke en paspoorte voor Donderdagaand inhandig. Al die aangeklaagdes moet ook vooraf toestemming verkry voordat hulle die provinsie verlaat. Die Toet-egpaar, Du Plessis en Pronk mag egter onder geen omstandighede die provinsie verlaat nie. Die aangeklaagdes mag ook geensins in kontak kom met renosters nie en mag ook nie inmeng in die polisie-ondersoek op die plaas Pragtig nie.

Die saak teen die elf is uitgestel tot 11 April 2011 vir verdere ondersoek.

 

Written by

Andries van Zyl & Isabel Venter

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines