

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 October 2010
Myngroepe wat die gebied agter die Soutpansberg teiken, sal dalk uiteindelik nie meer so maklik deurglip deur die betrokke regeringsdepartemente nie.
Die toekoms van die Vele oopgroef steenkoolmyn naby Mapungubwe lê tans in die hande van die Departement van Waterwese en Omgewingsake.
Coal of Africa (CoAL), die Australiese myngroep wat die mynboureg vir Vele by die departement mineraalbronne ontvang het, is op 5 Augustus deur die Groen Skerpioene beveel om hul bedrywighede by die myn te staak, omdat hulle nie aan omgewingsvereistes voldoen het nie. Indien CoAL in gebreke bly om gehoor te gee aan die bevel, sou dit ‘n kriminele oortreding wees.
“Dit kan die gevolg hê dat verdere aanklagte bygevoeg word by die kriminele ondersoek wat al reeds aan die gang is,” het die departement se woordvoerder, mnr. Albert Modise, gesê. Die departement sou ook, indien nodig, by die Hooggeregshof om ‘n interdik aansoek doen.
CoAL het egter onverwyld hul mynbedrywighede gestaak. Die omgewingsgroepe het gejuig, maar die mynwerkersunie en ander lede van die Musina-gemeenskap was hewig ontsteld. Bykans 600 mense het hul werk of vooruitsig vir werk vir die volgende 25 jaar verloor.
CoAL het op16 September die geleentheid gehad om ‘n gemeenskapsvergadering in Musina se landbousaal toe te spreek. Dié vergadering het baie belangstelling uitgelok en die uiteenlopende menings het duidelik na vore gekom. Omgewingsgroepe wil nie hê dat mynbou hoegenaamd weer in dié sensitiewe gebied hervat word nie. Vele is naby die Mapungubwe Wêrelderfenisgebied geleë en ook naby die beoogde internasionale oorgrenspark. Gemeenskapslede, veral van Nancefield, het betoog dat die myn moet voortgaan en ontwikkeling vir die gemeenskap bring.
Na berig word het mnr. John Wallington, uitvoerende hoof van CoAL, gesê dat die maatskappy gefouteer het deur met sy bedrywighede voort te gaan sonder om omgewingswetgewing in ag te neem. Wallington het ook gesê dat dit tyd is dat Suid-Afrika ‘n balans tussen omgewingsbewaring en ekonomiese ontwikkeling kry.
Tans is dit moontlik om as’t ware tussen die Departemente van Waterwese en Omgewingsake aan die een kant en die Departement van Mineraalbronne aan die ander kant deur te glip. Soos in die geval van die Vele-myn, het me. Susan Shibangu se Departement van Mineraalbronne die mynreg verleen. Daar was egter nog nie ‘n waterlisensie toegestaan of by Omgewingsake toestemming tot ontbossing verkry nie.
Wallington het tydens die vergadering op Musina gesê dat hy toestemming by die Departement Landbou, Bosbou en Visserye gekry het om te begin ontbos. ‘n Verandering in die mynbouwetgewing kan dalk meer gewig aan omgewingsbestuur verleen, soos vervat in die Nasionale Omgewingsbestuurswet (NEMA).
“Indien die Wysigingswet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne (MPRDA) ingestel sou word, sou dit beteken dat die Departement van Mineraalbronne na 18 maande verplig sou wees om die NEMA-riglyne vir die goedkeuring van myne te volg,” het mnr. Gareth Morgan op 28 September per e-pos aan die Zoutpansberger gesê. Morgan is die DA-skaduminister van waterwese en omgewingsake. Die enigste haakplek is dat daar nog nie duidelikheid is of die Departement Mineraalbronne die voorwaardes in die MPRDA-wysigingswet steun nie.
Morgan het me. Bueyelwa Sonjica, Minister van Waterwese en Omgewingsake geprys omdat sy “erken” het dat mynbou sensitiewe gebiede bedreig. Sonjica het in antwoord op ‘n parlementêre vraag gesê dat sy en Shabangu in Junie samesprekings gehad het. Sonjica het bevestig dat hulle oor die mynreg in Mapungubwe gepraat het en oor die versoenbaarheid van die mynbou- en die omgewingswetgewing.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
