ADVERTISEMENT:

 

Hof sê stiefpa moet begin rigting kry

 

News  Date: 01 October 2010

 

“Jy sal nou moet rigting kry,” was die woorde van Landdros M. Viljoen aan die lugmagsersant van LMB Makhado wat daarvan beskuldig word dat hy sy 10-jarige stiefdogtertjie seksueel misbruik het.

Die man het Maandag weer in die streekhof op Louis Trichardt verskyn, waar sy verhoor na verwagting ‘n aanvang moes neem.

Sy saak moes egter weereens uitgestel word - tot groot ongelukkigheid vir al die Staat se getuies wat ook teenwoordig was. Hofverrigtinge is vir meer as ´n uur lank vertraag, terwyl daar tevergeefs gewag is op die man se regsverteenwoordiger.

Toe die man gevra is of hy weet waar sy prokureur hom bevind, het hy bloot sy skouers opgetrek. Volgens die man het sy prokureur maande laas met hom gekonsulteer en weet hy nie wat aangaan nie. Hy weet klaarblyklik ook nie veel van die reëlings rondom sy regsverteenwoordiging nie, omdat sy vrou glo alles namens hom hanteer.

Die 34-jarige man is in November verlede jaar in hegtenis geneem en het verskyn op een klag van verkragting, een klag van seksuele aanranding, een klag van die vervaardiging van kinderpornografie, een klag van die vertoon van kinderpornografie aan ‘n kind en een klag van die seksuele vorming (grooming) van ‘n kind.

Die man is streng deur Landdros Viljoen gewaarsku om sy sokkies op te trek en voor Maandag, 5 Oktober ‘n nuwe regsverteenwoordiger te hê, sodat daar ‘n verhoordatum vas gestel kan word. Die man het kalm aantekenings gemaak in ‘n dagboek voordat hy weer teruggeneem is na sy sel.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines