ADVERTISEMENT:

 

Links: Tom Fourie (51).Regs: Jacques Els (37). Foto´s verskaf.

Fourie weer in hof, die keer saam met vriend

 

News  Date: 08 October 2010

 

Tom Fourie (51), die bestuurder van die Deense wildsplaas Maremani buite Musina, het Vrydag, 1 Oktober weer in die hof op Musina verskyn op klagte van die onwettige besit en verkoop van renosterhorings sonder die nodige toestemming of permitte.

‘n Vriend van Fourie, die 37-jarige Jacques Els van Thabazimbi, het dieselfde dag hom by die hof op Musina oorgegee en het op dieselfde klagte as Fourie verskyn. Hy is na sy hofverskyning op R30 000 borg vrygelaat. Fourie is na afloop van sy eerste hofverskyning op 9 September op R5 000 vrygelaat.

Die saak teen Fourie en Els hou na bewering verband met die verkoop van net meer as 30 renosterhorings wat klaarblyklik op Maremani van renosters verwyder is. Gerugte doen die rondte dat ‘n pleitooreenkoms tussen die Staat en Fourie moontlik kan plaasvind. Intussen is die saak teen Fourie en Els uitgestel tot 28 Oktober.

In hierdie stadium kan dit nie bevestig word of die saak teen Fourie en Els verband hou met die arrestasie en hofverskyning van 11 ander beskuldigdes op klagte van renosterstropery twee weke gelede nie.

Onder die 11 wat op 22 September in die hof op Musina verskyn het, is bekende sakeman van Polokwane Dawie Groenewald van Out of Africa Adventure Safaris en twee veeartse van Modimolle, Karel Toet en Manie du Plessis. Ander aangeklaagdes sluit in professionele jagters. Na wat verneem word duur die polisie-ondersoek in hierdie saak steeds onverpoosd voort, met opgrawings wat blykbaar hierdie week op Groenewald se plaas naby Bokmakierie (Mopanie-omgewing) gedoen sou word in die owerhede se soektog na moontlike onwettig-gejagte renosterkarkasse. Groenewald en sy 10 medebeskuldigdes moet op 11 April volgende jaar weer in die hof verskyn.

Die vlaag arrestasies met betrekking tot die renosterstropery in Suid-Afrika is wyd verwelkom. Sedert die begin van die jaar is daar volgens inligting 210 renosters vir hul horings in die land doodgemaak. Die TLU SA het egter gewaarsku dat mense die land se Grondwet moet respekteer op die grondslag van onskuldig tot skuldig bevind. Sou die beskuldigdes skuldig bevind word, staar hulle uiters strawwe vonnisse in die gesig.

Ingevolge Limpopo se omgewingsbestuurswetgewing, kan ‘n persoon ‘n R250 000 boete, gevangenisstraf van nie langer nie as 15 jaar of beide opgelê word, asook ‘n boete van vier keer die kommersiële waarde van die dier (renosters in hierdie geval) wat onwettig gejag is. Sou ‘n persoon op grond van die nasionale biodiversiteitswet skuldig bevind word, staar hy of sy ‘n boete van R10 miljoen òf gevangenisstraf van nie langer as tien jaar nie òf beide in die gesig. Daarbenewens kan ‘n boete van drie maal die kommersiële waarde van ‘n spesiaal-beskermde dier (weereens renosters in hierdie geval) gehef word.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines