ADVERTISEMENT:

 

Rowers op kamera gevang, maar nie agter tralies

 

News  Date: 08 October 2010

 

Soutpansberg Koelkamers op Louis Trichardt was die afgelope naweek die slagoffers van ‘n uiters slinkse en voorbedagte roof.

Personeel, wat Saterdag die winkel oopgesluit het, is begroet deur ‘n gapende kluis. Die bestuurder, mnr. Gerard Taute, is dadelik ontbied en by nadere ondersoek is daar vasgestel dat rowers toegang tot die perseel gekry het deur ‘n gat in die dak te maak.

Taute het vandeesweek vertel dat daar vanuit die sekuriteitskameras se beeldmateriaal vasgestel kon word dat daar twee rowers binne die winkel was.

Vrydag, om ongeveer 22:00 het twee rowers, wat met handskoene en balaklava’s gemasker was, by die winkel ingebreek en die alarmstelsel gedeaktiveer. Die mans was goed georganiseerd en het presies geweet wat om te doen en waar om te gaan.

Volgens Taute het die twee rowers ook twee vroulike medepligtiges gehad wat die sekuriteitswag se aandag afgetrek en hom bedwelm het.

“Ons is nie seker of hulle vir hom drank aangebied het of iets in sy koeldrank gegooi het nie,” het Taute gesê.

Op die beeldmateriaal kan daar duidelik gesien word hoe die twee rampokkers in die kantoor na die kluis se sleutels soek. Eers nadat hulle geen sleutels kon opsoor nie, het hulle voortgegaan om die kluis met ‘n slypmasjien (grinder) oop te sny.

Taute wou nie ‘n aanduiding gee van hoeveel geld in die roof gebuit is nie. Skade aan die winkel en kluis beloop egter etlike duisende rande.

Die dak is reeds herstel, maar dit sal sowat R25 000 kos om die kluis te vervang en nog duisende rande om die alarmstelsel te herstel.

Intussen ondersoek die plaaslike polisie die moontlikheid dat die roof by die koelkamers verbind kan word met soortgelyke rowe in Louis Trichardt. Verskeie ondernemings in die dorp is beroof of amper beroof deur rowers wat op ‘n soorgelyke wyse as by die koelkamers te werk gegaan het.

Volgens plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het twee vroue onlangs ook drank aangebied vir ‘n sekuriteitswag by Premjee & Son. Die wag het gelukkig nie die drank aanvaar nie.

Sadike het bevestig dat daar ‘n saak van diefstal en inbraak ondersoek word.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines