

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 October 2010
Kolom, die toneelstuk van Hoërskool Louis Trichardt, is die beste tienertoneel in Suid-Afrika! Die toneelgroep was buite hulleself van vreugde toe die aankondiging by die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom gemaak is dat KOLOM die land se wenner is.
Trane het ook gevloei.
“Daar was selfs ‘n traan in mnr. Denner se oog te sien! Ons is seker dit was trane van trots,” sê die toneelgroep. Hulle vertel dat sommige van die beoordelaars ook gehuil het, omdat die stuk hulle so aangegryp het. Die nege beoodelaars het bekende name soos Denise Newman, Ira Blanckenberg, Peet van Rensburg en Wim Vorster ingesluit.
Kolom handel oor die verhouding tussen ‘n ma en haar tienerdogter. Die gevare en nagevolge van tienerseks vorm ‘n sterk tema.
“Dit is ‘n oorspronklike teks wat na aan die hart van elke tiener en ouer sal lê, omdat dit geen doekies omdraai nie,” sê die regisseur, Nico Scheepers, wat ook die stuk geskryf het en vir die choreografie sowel as die musiek verantwoordelik was. Nico is ‘n oud-leerling van die skool wat vyf jaar lid van die skool se toneelgroep was.
“Die styl wat ek vir die verhoogstuk gevolg het, is die eksperimentele veld van bewegingsteater, waar die narratief en die karakters se emosies fisiek deur middel van lyfbewegings uitgebeeld word,” sê Nico, wat ‘n dramastudent aan die Universiteit van Pretoria is. Hy voeg by dat dit ‘n ongelooflike eer is om landswye wenners te wees en die skool en dorp se naam te kan hoog hou.
Daar het 185 skole ingeskryf vir vanjaar se ATKV- Tienertoneelkompetisie. Slegs tien produksies is gekies om by Aardklop op te tree. Nie alleen is Kolom aangewys as die beste toneelstuk nie, maar Nico het ook die toekenning vir die beste regisseur ontvang. Larissa Venter, wat die rol van die tienerdogter vertolk het, het die toekenning vir die landswye beste aktrise in tienertoneel ontvang. Vir Larissa is dit ‘n belangrike mylpaal in haar beoogde loopbaan in die vermaaklikheidswêreld.
Tharien Guillaume en Nelly Mametja was onder die top vyf beste vroulike byspelers en Evert Joubert onder die vyf beste manlike byspelers. Kolom is ook genomineer vir die beste tegniese stuk en die beste ensemble. Dit beteken dat die stuk nie net die algehele wenner was nie, maar ook in daardie twee afdelings onder die top vyf was.
Die toneelgroep het R10 000 vir die skool gewen.
“Dit sal ter bevordering van toneel by die skool aangewend word,” sê ‘n trotse me. Nellie Wolmarans, wat as vervaardiger van die stuk opgetree het. “Ek is bly as ek ‘n blywende liefde vir toneel by die kinders kan kweek. In Nico se geval het ek daarin geslaag en vandag pluk ons die vrugte daarvan,” sê me. Wolmarans, wat as onderwyser al sinoniem met toneel by die skool is.
Dit was egter nie net alles so maklik nie.
“Toe ons net begin repeteer het, wou ek al opgee. Om hoë-vlak dans en ballet vir rugby- en netbalspelers te leer, is nie maklik nie en al die kinders het gedink my idees is verskriklik vreemd en uitheems. Maar met honderde ure se harde werk en vertroue in mekaar het ons gestyg tot op ‘n uiters professionele vlak,” sê Nico.
‘n Belangrike ommekeer het gekom net voor die groep se optrede by Aardklop.
“Ek het skielik besef dit gaan nie oor ons as toneelgroep nie, maar oor die boodskap wat ons hier moet uitdra,” het een van die spelers, Sedzani Muswede, gesê.
Die toneelgroep bedank hulle borge, Werda Motors, Brenner Mills, Mount Fuji en Limpopo Melkerye, Minét Vivier vir die danslesse en ‘n ieder en elk wat bygedra het sodat die groep by Aardklop kon gaan deelneem.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
