ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Stephan Gaigher, ´n plaaslike argeoloog, demonstreer hoe daar te werk gegaan is met die oer-oue handbyl. ´n Leser, mnr. Apie Meintjes, het die klip sowat drie jaar gelede in sy tuin ontdek het.

Oerklip in tuin dalk ouer as miljoen jaar

 

News  Date: 08 October 2010

 

‘n Klipwerktuig, wat uit die vroeë Steentydperk dateer en moontlik meer as ´n miljoen jaar oud kan wees, het hierdie week sy weg na die kantore van die Zoutpansberger gevind.

Dié klipwerktuig is sowat drie jaar gelede deur ‘n leser, mnr. Apie Meintjes, in die tuin by sy huis in Elandstraat ontdek, terwyl hy in sy tuin gewerk het. Die klipwerktuig het egter in die vergetelheid gebly, totdat Meintjes dit onlangs weer opnuut ontdek het terwyl hy besig was om te verhuis.

“Ek wou die klip al by die koerant kry, maar het net nooit daarby uitgekom nie,” het Meintjes gesê.

Die klip se unieke vorm het dadelik Meintjes se aandag getrek. Dit het amper soos ´n groot assegaaipunt gelyk, met die kante wat afgeplat was. Daar was selfs iets wat soos ´n handgreep gelyk het op die klip sigbaar.

Volgens Meintjes het hy nog twee soortgelyke klippe ontdek, waarvan een ‘n ronde vorm gehad het. “Dit het egter agtergebly, want die mense wat nou in die huis bly, het dit gehou vir hulle rotstuin,” het Meintjes gesê.

Die Zoutpansberger het ná Meintjies se besoek die klip aan plaaslike argeoloog mnr. Stephan Gaigher gewys.

Volgens Gaigher dui die klip se gekartelde sykante daarop dat dit ‘n mensgemaakte werktuig is. Wat die werktuig se ouderdom en oorsprong betref, het Gaigher gemeen dat die klip uit die vroeë Steentydperk dateer en selfs ouer as ‘n miljoen jaar kan wees.

“Hierdie werktuig is ‘n klassieke voorbeeld van ‘n groot, tweesydige Acheulean -handbyl,” het Gaigher gesê. Die Acheulean-tradisie het twee fases gehad, naamlik 1.7 tot 1.5 miljoen jaar gelede en 250 000 tot 200 000 jaar gelede.

Die klipbyl word regop gehou aan die “handvatsel” en is dan gebruik om wortels uit die grond los te kap of selfs om bene stukkend te slaan. Gewigsgewys is dit ook duidelik dat toentertyd se mense uiters sterk en fiks moes wees om met die handbyl oor die weg te kon kom.

Volgens Gaigher word hierdie tipe werktuie meestal verbind met evulerende oermense van die genus Homo wat baie in gemeen gehad het met die moderne mens. “Dit is onwaarskynlik dat enige van die groepe reeds vuur bemeester het en hulle het hoofsaaklik jaggemaak op klein diere, en `n groot deel van hulle dieët het bestaan uit wilde plante.”

Gaigher het verder vertel dat alhoewel hierdie tipe werktuie redelik skaars is, dit nie uniek aan die streek is nie.

“Vroeë Steentydperk-terreine is baie skaars in Suidelike Afrika, met slegs 20 geseëlde terreine wat tans bekend is in Suid-Afrika,” het hy gesê. Hiervan is die naaste terrein by die Cave of Hearts by Makapansgat.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines