ADVERTISEMENT:

 

Landbou sê taalregte word vertrap

 

News  Date: 08 October 2010

 

Die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) maak ernstig beswaar dat taal gebruik word om gemeenskappe uit die proses van die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan uit te sluit.

Na aanleiding van ‘n GOP vergadering op 29 September in die skousaal op Louis Trichardt, waar die voertaal hoofsaaklik Venda was, het die SDLU gesê dat dit onaanvaarbaar is dat die taalregte van sommige burgers blatant ondermyn word.

“Dit is gewoon nie aanvaarbaar dat taal gebruik word om gemeenskappe uit die proses uit te sluit nie,” het mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die SDLU, Maandag gesê.

Die SDLU het in ‘n brief aan die Makhado Munisipaliteit dit eerstens op rekord geplaas dat “die GOP vergadering nie voldoen aan die vereistes van konsultasie soos in die toepaslike wetgewing bepaal en deur hofuitsprake gedefinieer nie.”

Tweedens is dit op rekord geplaas dat dit onaanvaarbaar is dat die taalregte van sommige burgers blatant ondermyn word.

“Daar word met waardering kennis geneem van Raadslid Samson Baloyi se poging om die taalkwessie sinvol te hanteer, maar daar word met kommer kennis geneem van die amptenaar van die Vhembe Distrik Munisipaliteit se vertrapping van die taalregte van deelnemers,” lui die derde punt van die brief.

Die verteenwoordiger van landbou het die saal verlaat nadat die amptenaar van die Vhembe Distrik Munisipaliteit slegs in Venda gepraat het. Die SDLU sê dat al die ander taalgebruikers blatant uitgesluit is, nieteenstaande ‘n sinvolle reëling deur die raadslid wat as voorsitter van die vergadering opgetree het.

“Die vergadering kon net sowel nie plaasgevind het nie, aangesien dit nie as ‘n grondwetlik-gehoorsame vergadering erken word nie. Landbou verwerp die vergadering en die houding van die munisipaliteite met die minagting wat dit verdien,” sê mnr. Hoffman.

Hoffman waarsku dat die hele begrotingsproses in die gedrang is. Dit sluit die goedkeuring van die munisipale begroting van 2011/12 in.

Volgens die brief van die SDLU aan die munisipaliteit word dit verder op rekord geplaas dat indien die vergadering nie weer gehou word met die inagneming van die taalregte van alle deelnemers nie, die vergadering nie as konsultasie gesien word nie.

“Indien die munisipaliteit volhard met die beleid van uitsluiting deur taalgebruik, sal die SDLU nie die GOP of die munisipale begroting van 2011/12 aanvaar nie,” lui die persverklaring.

Die SDLU stel voor dat meer as een GOP vergadering gehou word, elk met ‘n ander taal, sodat die taalregte van burgers in ag geneem kan word. Teen druktyd het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê dat hy nie die SDLU brief ontvang het nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines