

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 October 2010
Die verhoor teen die drie regsmanne wat daarvan aangekla word dat hulle glo omkoopgeld aanvaar het om hofsake te beïnvloed, het Maandag in die landdroshof op Musina begin.
Die klagstaat teen drie beskuldigdes, streekslanddros Ronnie Rambau, streeksaanklaer Estene Willemse en T.E. Lubisi, ‘n prokureur van Musina, beslaan bykans sewe bladsye. Die hoofaanklag wat teen hulle geformuleer is hou verband met beweerde korrupsie en sameswering om korrupsie te pleeg.
Die aanklagte teen die drie hou verband met ‘n voorval in Februarie vanjaar, toe hulle tydens ‘n polisielokval in hegtenis geneem is. Tydens die lokval is gemerkte geld by Lubisi, Willemse en Rambau gekry, wat deur ‘n polisie-informant betaal is om die uitspraak van ‘n sekere saak te beïnvloed.
Die lokval is in die Musina-area uitgevoer, met die doel om korrupte beamptes vas te trek wat die gereg ondermyn deur ondermeer die minimum vonnis van motordiefstalsake vooraf vas te stel deur middel van pleitooreenkomste. Na bewering het die beskuldigdes ook omkoopgeld in sake van moord en verkragting ontvang.
Rambau, Willemse en Lubisi het almal Maandag onskuldig gepleit op al die aanklagte, alhoewel Rambau en Lubisi nie ontken het dat hulle geld aan mekaar uitgeruil het nie.
Volgens die twee se verduideliking het Rambau ‘n voertuig aan Lubisi verkoop en daarom het Lubisi geld aan Rambau oorbetaal. Willemse het egter soos die graf geswyg en stil in die beskuldigingsbank gestaan.
Nadat die drie mans onskuldig gepleit het, het die Staat hulle eerste getuie, ´n polisie-informant wat in die lokval gebruik is, geroep. Teen druktyd was die informant nog steeds besig om te getuig.

ADVERTISEMENT:
