ADVERTISEMENT:

 

Polisie lê beslag op R2 miljoen se perlemoen

 

News  Date: 05 March 2004

 

MUSINA – Twee vermeende smokkelaars het verlede week hier hul rieme styfgeloop, nadat hulle betrap is met sowat R2,1miljoen se onwettige perlemoen.

Die twee is in 'n gesamentlike operasie in hegtenis geneem. Hulle het hul saak verder versleg deur polisiebeamptes te probeer omkoop teen bedrae van R150 000.

Volgens die polisie is 38 kartonne van dié gesogte seekos Woensdagnag, 18 Februarie, deur die weermag gekonfiskeer, nadat 'n voertuig voorgekeer en deursoek is. Die perlemoen is agter in die voertuig gevind. 'n Man van Musina is in die voorval in hegtenis geneem.

Verdere ondersoek het later gelei tot die inhegtenisname van nog 'n verdagte, 'n Chinese vrou, op Donderdag, 26 Februarie by Tshipise. Volgens die polisie het die vrou aangebied om die gekonfiskeerde perlemoen van die ondersoekbeampte "terug te koop".

Die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad het 'n lokval gestel waarin 'n ontmoeting met die voornemende koper gereël is. Die ontmoeting het die dag van die vrou se arrestasie plaasgevind, waartydens ooreengekom is op 'n prys R150 000. Een polisieman, wat hom as aanklaer voorgedoen het, is glo R10 000 betaal om nie met die saak voort te gaan nie. 'n Duplikaat van die saakdosier is aan die 29-jarige Chinese vrou oorhandig. 'n Ander polisieman, wat hom voorgedoen het as die persoon in bevel van die vrieskamer waar die perlemoen bewaar is, is ook R10 000 betaal om te verseker dat die perlemoen aan haar oorhandig sou word. Die oorblywende R130 000 sou in Polokwane aan die ondersoekbeampte oorhandig word, nadat sy die perlemoen in ontvangs geneem het.

Sy is na die fop-transaksie in hegtenis geneem en het die naweek in die polisieselle op Musina deurgebring. Sy het Maandag in die hof verskyn en is op R20 000 borg vrygelaat.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die polisie se Grens Taakspan en die eenheid vir Georganiseerde Misdaad, Diamante en Goud was onder meer deel van die gesamentlike optrede.

In nog 'n gesamentlike operasie is altesaam 18 winkels op Musina gesluit, nadat die polisie en die weermag op 38 selfone beslag gelê het en twee Pakistaniërs in hegtenis geneem het. Die optrede, wat deel uitmaak van Operasie Skoonmaak, was gemik teen vermeende handel in gesteelde goedere.

In ander misdaadnuus van dié grensdorp het die polisie 'n selfmoorddosier geopen, nadat die liggaam van 'n 20-jarige man van Zimbabwe aangetref is waar dit vir vermoedelik twee dae aan 'n draad aan 'n boom gehang het. Die rede vir die daad is onbekend.

Verlede Vrydag is daar ook 'n 21-jarige moeder van 'n seuntjie van 18 maande oud op Musina in hegtenis geneem op 'n aanklag van aanranding op 'n 32-jarige man. Die man is met ernstige bytbeserings, onder andere op sy geslagsdele, in die hospitaal opgeneem. Die vrou, saam met haar kleuter, was met druktyk nog steeds in aanhouding in die polisieselle op Musina. Dit is nie seker waarom die vrou die man gebyt het nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines