

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 October 2010
Ná bykans twee maande is daar nog geen uitklaring vir die persone wat by die hof moes gaan aanklop vir hulp om duidelikheid te kry oor hul spoedboetes nie.
In Julie het die Zoutpansberger berig oor Louis Trichardt verkeersbeampte mnr. Job Munyai, wat gearresteer is naday hy glo 274km/h op die N1 suid na Polokwane gery het.
Motorkenners het egter gemeen dat dit onmoontlik was vir Munyai om daardie snelheid te behaal, aangesien sy tweedehandse Mercedes Benz C200 Kompressor se spesifikasies dit nie toelaat nie. Dit het die vraag laat ontstaan of die nuwe mobiele spoedmeters wat gebruik was om hom vas te trek, korrek funksioneer en korrek aangewend is.
Ná Munyai se arrestasie het dit vanuit hofgeledere bekend geword dat daar nog 11 mense was wat ook gearresteer is op klagte dat hulle ‘n buitensporige hoë snelheid op dieselfde pad gery het.
In van die gevalle is ‘n Audi S3 afgetrek nadat dit glo teen 273km/h gery het. Die eienaar het die spoedlesing betwis en sy voertuig laat toets deur sy vervaardiger. Volgens die vervaardigersertifikaat het sy Audi 3 ‘n topspoed van 250km/h en was daar geen modifikasies aan die enjin aangebring nie.
Meeste van die motoriste wat destyds vertoë gerig het, het ook beweer dat die verkeersbeamptes wat hulle afgetrek het, eers omkoopgeld gevra het en as hulle nie kon betaal nie, is hulle summier in hegtenis geneem.
Al 12 klagtes is op Maandag, 27 September in die Sekgosese landroshof op Soekmekaar teruggetrek, hangende terugvoer van die Departement van Paaie en Vervoer.
Volgens die staatsaanklaer, mnr. Paul Olivier, het nie die kantoor van die Departement van Vervoer of die kantoor van die Limpopo Verkeersafdeling geantwoord op talle navrae nie. Die Zoutpansberger se telefoonoproepe, wat ook opgevolg is met verskeie e-posse en fakse aan die twee kantore, is ook nie beantwoord nie.
Provinsiale woordvoerder me. Clarissa Naidoo het wel Maandag vir die eerste keer bevestig dat die koerant se navrae ontvang is en ondersoek sal word.

ADVERTISEMENT:
