ADVERTISEMENT:

 

Thinus Roux (regs) saam met sy jarelange vriend, Bossie Boshoff, by die toestel wat hulle laat patenteer het. Die metaalstaaf wat Thinus vashou word aan ´n elektriese toestel (agter) gekoppel en dan in ´n warmwatertoestel geplaas om die watermolekules te versteur en sodoende die water te verhit. Hierdie elektriese toestel verhit nie net water 15% vinniger nie, maar kan die verbruiker ‘n allemintige 82,5% in elektrisiteitsverbruik spaar. Tans is daar ‘n Australiaanse maatskappy wat belangstelling in die patent toon.

Soutpansbergers se unieke toestel kan duisende spaar

 

News  Date: 22 October 2010

 

‘n Revolusionêre nuwe instrument wat krag bespaar op warmwatertoestelle (geysers), prikkel mense van oral, selfs uit die buiteland, se belangstelling.

Hierdie opspraakwekende apparaat, die eerste in sy soort in Suid-Afrika, is die breinkind van mnr. Thinus Roux van Louis Trichardt. Baie sal hom egter beter ken as Thinus van Electronic Field Services.

Hierdie elektriese toestel, wat die element van ‘n normale warmwatertoestel vervang, verhit nie net water 15% vinniger nie, maar kan die verbruiker ‘n allemintige 82,5% in elektrisiteitsverbruik spaar.

Die toestel het ´n klein begin gehad toe Thinus nog maar in Standerd 8 was. Tydens ´n wetenskaples het die onderwyser genoem dat water ´n geleier is van elektrisiteit en dit het die ratte aan die draai gesit vir Thinus.

Met hierdie kennis het Thinus afgesit huis toe en ‘n eksperiment van sy eie opgestel om dié stelling te toets. Die warmwaterapparaat is deur ´n inlê bottel vol water voorgestel. Thinus het toe twee gaatjies in ´n houtblokkie gemaak, waarin hy twee stukke drade vasgemaak het en in die water gesit het.

Met krag afkomstig van die muurprop, wat deur die draad gehardloop het, het die water begin kook. Dit het die fondasie gelê vir die eerste toestel.

Daar sou egter nog baie naweke en aande se beplanning volg alvorens die apparaat vervolmaak kon word. Eerstens moes die toestel so verander word dat dit elektronies werk, sodat daar nie krag in die water is wat mense kan skok nie.

Thinus was verantwoordelik vir die elektroniese deel van sy uitvindsel, maar het ‘n jarelange vriend, mnr. Bossie Boshoff, gevra om ‘n handjie by te sit en as mechanic aan boord te kom.

Die elektroniese deel van die toestel, wat in ‘n klein houertjie pas, werk met ‘n 5A-stroombreker wat aan ´n elektrisiteitslyn gekoppel word. Dit gelei dan ‘n hoë gelykstroom-frekwensie (pulsating DC voltage) deur twee metaalstawe, wat dan as´t ware dien as die "nuwe" element van die warmwatertoestel. Die frekwensie wat deur die stawe vloei versteur die watermolekules, wat hulself dan as´t ware laat verhit..

“Met ander woorde, daar word nie van hitte gebruik om die water warm te maak nie, die water maak ditself warm,” verduidelik Thinus.

Dit was egter ‘n tameletjie om die kapasitors te maak pas op die warmwatertoestel en Bossie moes baie kopkrap om dit reg te kry.

“Ons het later maar stawe gegiet en getoets, totdat ons dit reggekry het,” vertel Bossie. Eers 30 jaar later, in 1992, het hulle ´n werkbare patent gehad en Thinus en Bossie het afgesit Pretoria toe om die patentregte te registreer.

“Dit was nogals ‘n storie. Afgesien van die geld wat dit jou kos, moet ‘n mens nét so ‘n pak dokumente indien,” sê Thinus.

In ‘n stadium het hulle self ingespring om te kyk of daar alreeds ‘n soortgelyke patent geregistreer is.

“Dit was blaadjie op blaadjie wat ons deurgekyk het - vir drie ure lank,” vertel Thinus.

Helaas is die eerste patent afgekeur, omdat die frekwensie te hoog was en die water ongeskik was vir menslike gebruik. Daar moes weer van vooraf beplan en getoets word aan die toestel. Dit sou nog baie bemoediging verg voordat die tweede patent, 17 jaar later, gereed sou wees om uit te toets.

“Marthie, my vrou, en Bossie moes maar baie moed inpraat. As ek klaar ‘n ding uitgewerk het, is ek geneig om belangstelling te verloor,” merk Thinus op. Met die tweede probeerslag, in Julie vanjaar, het Thinus eers seker gemaak van die water se gehalte en toetse laat doen.

Capricorn Laboratories, wat die toetse gedoen het, het die water 100% veilig verklaar. Daar is ook bevind dat die water sagter is as gevolg van die kalkvermindering in die water.

Tans is daar ‘n Australiese maatskappy wat belangstelling in die patent toon en Thinus en Bossie wag om verder van hulle te hoor. Albei is egter van voorneme om self die patent te vervaardig as die maatskappy nie wil byt nie.

“Ons wil ook nog vir Eskom aan boord kry en beplan om hulle later vanjaar te nader,” het Thinus gesê.

Die elektroniese apparaat kan op enige warmwatertoestel geïnstalleer word.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines