

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 October 2010
‘n Munisipale rekening van meer as R280 000 is nie iets wat ´n onderneming of huishouding graag wil ontvang nie.
Pro Paint van Louis Trichardt het die skok van hul lewe gekry toe daar skielik op hul rekeningstaat ‘n bedrag van R241 520.87 vir elektrisiteit verskyn, wat die totale rekening vir 18 September op R283 169 te staan gebring het.
By navraag het die Makhado Munisipaliteit gesê dat hulle moet betaal vir die elektrisiteit vandat die onderneming sowat 24 jaar gelede begin het.
Pro Paint se boekhouer, me. Maud Myburg, het gesê dat hulle intussen die normale R1 500 per maand gaan betaal het, aangesien hulle die saak met die munisipaliteit deur middel van ‘n prokureur opneem.
Volgens die hoofkantoor van Pro Paint in Bronkhorstspruit wil hulle graag weet presies hoe die munisipaliteit die rekening uiteensit. Hulle wil weet hoe dit bereken is en hoekom die rekening na soveel jare eers uitgestuur word.
“Ons beskou dit as nalatigheid van die munisipaliteit se kant,” het me. Mariska van Heerden, die groep se senior administrateur, hierdie week gesê.
Die munisipaliteit het in Julie vanjaar ‘n nuwe elektrisiteitsmeter by Pro Paint kom installeer.
“Voordat hulle die meterkas kom insit het, het die begin en eindlesing altyd bly staan op 8273. In Julie het daar 66480 vir die begin en eindlesing gestaan. Vir Augustus is daar geen elektrisiteitslesing nie,” sê me. Myburgh. Die September rekening toon ‘n beginlesing van 74668 en ‘n eindlesing van 669547, sodat hulle verbruik aangedui is as 594879 eenhede. Vermenigvuldig dit met 40.6 sent per eenheid en daar verskyn die enorme bedrag van R241 520.87.
Skynbaar het die munisipaliteit nooit ‘n bedrag gehef vir elektrisiteit toe die meters nie gewerk het nie. Nou word die bedrag gehef vir die laaste paar dekades.
“Wie maak so ‘n rekening op? Wie se verantwoordelikheid is die rekening? Ons stuur ook state na ons kliënte uit en hulle betaal dit. Ons maak seker dat ons state reg is,” het die plaaslike Pro Paint bestuurder, mnr. Sakkie Scholtz, gesê.
Dit laat onwillekeurig die vraag ontstaan of daar chaos heers in die munisipaliteit se rekeninge-afdeling.
Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het op Maandag (18de) gesê dat hy die saak sal ondersoek en later sal reageer.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
