

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 October 2010
Gaan elke huishouding in die toekoms sy eie elektrisiteits- en watervoorsiening hanteer? Dis heel moontlik en is aan die kom, sê plaaslike argitek mnr. Paul Perold.
Dink net, ‘n lewe waar die gevolge van swak bestuur nie meer ‘n invloed het nie. Is dit al ekonomies haalbaar of nog net ‘n droom, behalwe vir die hoogsbesoldigdes in die gemeenskap?
“Die nuwe voorgestelde wetgewing oor groen behuising, gebaseer op die vermindering van die koolstofvoetspoor, sal argitekte en ander dwing om geboue se ontwerpe aan te pas. Die rede is dat energiebronne uitgeput raak en skade in die stratosfeer veroorsaak,” sê Perold.
Die energiebronne en infrastruktuur is nou al beskikbaar om ‘n huishouding onafhanklik van munisipale landlyntoevoer te maak.
“Daar is ‘n groot opgewondenheid in die mark. Stadig maar seker word dit goedkoper en al hoe meer koste-effektief. Veral met elektrisiteit, verwarming, water en selfs riooldienste is daar ‘n beweging na onafhanklike sisteme, sodat ‘n huis sy eie goed hanteer. Die professor wat die dekaan is van die argitektuur fakulteit in Pretoria, se huis is in alle opsigte onafhanklik van munisipale toevoer. Ons kan al geboue ontwerp wat 90% onafhanklik is van landlyntoevoer,” sê Perold.
Nog ‘n plaaslike argitek, mnr. David Craig, stem saam met die benutting van alternatiewe energiebronne.
“Sonverhitting is by verre die beste, want die sonhitte word direk in energie omgesit. Jy kan al jou water kook met sonverhitting. Die nuwe soort het ‘n koperstaaf wat hitte absorbeer en oorsit in olie, wat dan sirkuleer en die water verhit,” sê Craig.
Die koste van ‘n solarsisteem kan so by die R25 000 draai. Die koste word tussen vier en sewe jaar verhaal met die besparing op elektrisiteit. Die goeie nuus is egter dat sisteme deur Eskom gesubsidieer word .
“Eskom stel lenings beskikbaar om die aanvanklike kostes te versprei. Daar is ook rebatte beskikbaar,” sê Craig.
‘n Hittepomp is nog ‘n manier om baie te bespaar. Die koste daarvan is so tussen R6 000 en R8 000, sonder die koste van die waterverhittingstoestel (geyser). “Hittepompe is tans baie meer ekonomies as ‘n solarsisteem, maar gebruik ongelukkig nog elektrisiteit. Dit gee ‘n besparing van tot 70% op elektrisiteit. As jy klaar ‘n geyser het en dit wil opkoppel op ‘n hittepomp, gaan dit jou seker so R7 000 uit die sak jaag,” sê Perold.
Craig sê dat ‘n hittepomp ook in die plek van ‘n lugreëling gebruik word.
“Dit koel die hitte in jou gebou af en maak die water warm. Dit is baie effektief,” sê Craig.
Die gemiddelde mens byt egter nog nie regtig aan die solarsisteme of hittepompe nie, sê plaaslike sakeman mnr. Derik Prinsloo van Elect2Temp en Elect2Plumb.
“Die gemiddelde salaristrekker sit nog nie daardie bedrae neer om dit later in te haal met besparing nie. Eskom is nog redelik goedkoop vir hulle. Maar die pryse van die alternatiewe is besig om af te kom,” sê Prinsloo.
Volgens Prinsloo is watertenks nou die ding wat almal insit.
“Watertenks van 5000 liter met ‘n drukpomp en installasie kan so R7 500 kos. Die mense is nou bereid om ‘n watertenk te installeer, want hulle sien dit as noodsaaklik,” sê Prinsloo.
Die somer is ook weer hier en mense soek ‘n lekker koel vertrek. ‘n Lugreëling vir een vertrek kos so tussen R7 000 en R9 000. Maar wag ‘n bietjie voor jy daardie uitgawe aangaan.
Wanneer daar na verkoeling van ‘n huis of gebou gekyk word, sê Perold, is daar baie dinge wat jy kan doen. Insuleer die dak behoorlik, ook betondakke, want dakke is die grootste bron van hittegenerasie.
“As jy ‘n huis bou, moet hy nie wes front nie, maar eerder Noord, 15 grade Oos. Maak die mure hol wat baie son kry,” sê Perold.
By sy eie huis het Craig dakkappies oor die vensters gemaak.
“Dakkies skuins oor die venters is baie effektief, sodat jy meer indirekte lig kry. Vensters moet ook nie te groot wees nie. Swaar gordyne is ook effektief om hitte uit te hou. Dubbelglas isoleer ook en word as ‘n vereiste oorweeg in die nuwe voorgestelde bouregulasies waaraan nog geskaaf word,” sê Craig.
“Die goeie basiese beginsels gaan nou afgedwing word deur die voorgestelde wetgewing. Probeer eers die hitte uithou deur die basiese dinge te doen. Daarna kyk jy na die sekondêre meganiese hulpmiddels, soos ‘n lugreëlaar, wat jou elektriese rekening gaan verhoog,” se Perold.
Wat nou van riool? Sal ‘n huishouding in die dorp daar ook onafhanklik kan word? Oplossings daar kan seker insluit ‘n Lilliput-rioolsisteeem of ‘n rietbedsisteem, wat meer omgewingsvriendelik is as ‘n septiese tenk.
Wat sou dit kos om ‘n totale aardvriendelike “groen” huis te hê, onafhanklik van munisipale landlyntoevoer?
“Tans as jy jou hele huis van die elektriese landlyntoevoer na groen wil omskakel, is die koste R50 000 plus,” sê Perold. Die goeie nuus is darem dat pryse afwaarts beweeg wat, met ‘n biejtie toekomsbeplanning, dit al meer binne bereik van Jan Alleman sal plaas.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
