

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 October 2010
Toe Dalani Lordwick Mundalamo (31) en sy vriend Richard Nevhulaudzi (29) van Thohoyandou in Augustus verlede jaar van onwettige olifanttande ontslae wou raak, het nie een van die twee die vaagste benul gehad wat vir hulle voorlê nie.
Wat ‘n gewone handelstransaksie vir die twee mans moes gewees het, was toe eintlik ‘n goed-deurdagte lokval wat die polisie vir hulle gestel het. ´n Prentjie mag dalk ´n duisend woorde spreek, maar in dié twee se geval is hulle hele transaksie op videoband vasgelê.
‘n Week voor die voorval het Dalani ‘n vriend gevra om ‘n koper te soek vir vier olifanttande wat hy in sy besit gehad het. Min het hy geweet dat hy eintlik met ‘n polisie-informant gesels. Hierdie inligting is dadelik aan die polisie oorgedra.
Mario Scholtz, ‘n polisiereservis verbonde aan SANParke, het in die hof getuig hoe hy homself voorgedoen het as ´n sakeman van Johannesburg en Mundalamo gekontak het. Om ‘n ontmoeting met Dalani te reël was egter geen maklike taak nie. Dalani wou eers hê dat Scholtz hom in Thohoyandou ontmoet.
Die twee het egter ooreengekom om mekaar in Polokwane te ontmoet. ‘n Dag voor die ontmoeting het Dalani koue voete gekry en Scholtz gevra om hom eerder in Louis Trichardt te ontmoet. Teen dié tyd was die polisie se afdeling vir Georganiseerde Misdaad deeglik bewus van Dalani se doen en late en het hulle reeds die nodige toestemming verkry om ‘n lokval te stel.
Steeds in die donker oor alles, het Mundalamo op Dinsdag, 25 Augustus 2009 opgedaag vir die hoogs “geheime” ontmoeting en vir Nevhulaudzi saamgebring.
Aanvanklik het Mundalamo geswyg en Nevhulaudzi gelos dat hy al die praatwerk doen.
Albei mans was huiwerig om in die straat te gesels en Mundalamo het Scholtz vergesel na die winkelkompleks in Eltivillas. Nevhulaudzi het per voet gevolg en Scholtz en sy kollega gevra om vir hom te wag terwyl hy die ivoor gaan haal.
Terwyl Nevhulaudzi weg was, het Scholtz Nevhulaudzi gepols vir verdere inligting. Nevhulaudzi was duidelik lus vir gesels. Hy het in detail uitgebrei en Scholtz presies vertel hoe hy en Mundalamo die ivoor in Zimbabwe gekoop het. Hy het ook vir Scholtz nog sewe olifanttande, goud en diamante en een renosterhoring aangebied, indien die transaksie na wense sou verloop.
Volgens Nevhulaudzi is dit glo nie so moeilik om onwettige goedere oor die grens te kry nie. Al wat mens nodig het is ‘n identiteitsboekie en ‘n bestuurderslisensie om in Zimbabwe te kom. Nevhulaudzi het vir Scholtz verduidelik dat mens net R20 hoef te betaal om terug te kom, want die mense daar is honger, is baie korrup en het nie baie geld nodig nie.
Albei die mans is in hegtenis geneem nadat hulle ooreengekom het om die ivoor vir R17 000 aan Scholtz te verkoop. Hulle wou aanvanklik R100 000 gehad het vir die 14kg ivoor. ‘n Forensiese ondersoek sou egter later hierdie aanspraak weerlê. Die ivoor het altesaam 8,748kg geweeg en was maar R8 177.62 werd.
Die twee het Maandag in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn, beide op ‘n klagte met betrekking tot die onwettige handel in ivoor.
Nevhulaudzi, wat skuldig gepleit het, is tot vier jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Mundalamo het egter aangedui dat hy onskuldig gaan pleit en sy verhoor is uitgestel tot 2 en 3 Desember vanjaar. Sy borgvoorwaardes is verleng.

ADVERTISEMENT:
