ADVERTISEMENT:

 

Polisie moet weer opdok

 

News  Date: 29 October 2010

 

Twee voormanne van ‘n plaas in die Pontdrift-omgewing is finansieel heelwat beter daaraan toe, nadat hulle hul saak van onregmatige arrestasie teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens gewen het.

Regter Mokgoba van die Hoërhof in Gauteng het verlede Woensdag ‘n skadevergoedingseis van R180 000 elk aan die 31-jarige Godfrey Moyo and 36-jarige Simon Ndlovu toegestaan, nadat hy bevind het dat hul arrestasie in ‘n beweerde ontvoeringsaak onregmatig was.

Die saak spruit uit ‘n voorval in Maart 2009 op die plaas Parma van die 70-jarige mnr. Piet Boshoff. Op die 18de van daardie maand is ‘n 30-jarige plaaswerker gevang terwyl hy mangos steel op die plaas. Moyo en Ndlovu het die werker hieroor gekonfronteer en, nadat hy skuld erken het, het hy bedank. Die werker het sy besittings bymekaar gemaak, waarna Moyo en Ndlovu vir Boshoff gevra het om die mangodief met die bakkie hoofpad toe te neem. Die vier mans is toe daar weg.

Twee dae later daag die ma van die 30-jarige mangodief by die polisiestasie op Alldays op en lê op blote hoorsê ‘n klag van ontvoering. Dit volg nadat haar seun nie huistoe gekom het nie.

Die polisie het geen tyd verspil om vir Moyo en Ndlovu te arresteer en aan te hou in die selle op Alldays nie. Intussen het Boshoff sy prokureur, mnr. Hennie Erwee van Musina, geskakel en die twee is saam na die polisiestasie. Daar aangekom, is beide mans ontslaan, nadat die polisie op skrif erken het dat Moyo en Ndlovu nie verbind kan word met die man se verdwyning nie.

Twee dae later, op die 20ste Maart, daag lede van die polisie se Georganiseerde Misdaadeenheid in Polokwane op die plaas op en arresteer weer vir Moyo en Ndlovu, asook Boshoff, op dieselfde klagte. Die drie is daarna in die polisieselle in Polokwane gegooi, waar hulle vir twee dae aangehou is.

Die saak is intussen oorgeplaas na die hof op Louis Trichardt en op 22 Maart van daardie jaar verskyn al drie mans op ´n klag van ontvoering. Al drie kry borg en die saak word uitgestel. Klagte teen die drie word egter later heeltemal laat vaar, nadat die mangodief opgespoor word en ‘n verklaring aflê dat hy nooit ontvoer is nie. Hy het blykbaar net op ‘n ander plaas gaan werk, sonder om vir sy ma daarvan te sê.

Erwee het toe namens die drie mans die Minister van Veiligheid en Sekuriteit gedagvaar met eise van R300 000 elk op klagte van onregmatige arrestasie. Verlede week is Moyo en Ndlovu se verminderde eise toegestaan. Boshoff sal op 22 November hoor hoeveel hy gaan ontvang. Kanse is goed dat dit meer kan wees as in Moyo en Ndlovu se geval, aangesien die hof sy status in die gemeenskap en ouderdom in ag sal neem.

Voorvalle van onregmatige arrestasie in die Soutpansberg-omgewing blyk ‘n ernstige probleem te wees. Erwee sê hy hanteer tans sowat 200 soortgelyke sake teen die polisie van klaers in Musina, Louis Trichardt en Polokwane. Hy is maar een van talle prokureurs. In dié verband is daar toenemende openbare druk op die regstelsel om polisiebeamptes in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik te hou vir skadevergoedingseise, eerder as om dit af te skuif op die belastingbetaler.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines