ADVERTISEMENT:

 

Lekker reën, maar ai die hael!

 

News  Date: 29 October 2010

 

Die somerreënvalseisoen is Sondag met ‘n verwoestende haelstorm oor die Soutpansberg ingelyf. Veral op Levubu was die oesskade erg, met boere wat tot 50% van hul oeste verloor het.

Een van hulle was mnr. Marius Schutte van die plase Boomryk en Schoonuitzicht naby die Albasinidam. Hy reken die hael het sowat 50% van sy makadamia-oes aan flarde geslaan.

“Dit is moeilik om te bepaal, maar ek hoop dit is minder,” het Schutte gesê. Sy buurman reken sy skade op sowat 40% van sy oes.

Schutte het vertel die haelstorm, wat sowat 10 minute geduur het, het so ongeveer elfuur Sondagaand saam met die reën uitgesak. Die hael het in twee vlae gekom en sy grasperk het byna wit gelê.

“Dit gaan die sak ruk,” het Schutte gesê wat sy skade betref. Hy het gehoop op ‘n goeie oes.

“Maar ons aanvaar dit maar. Dit is deel van boerdery,” het Schutte gesê.

Vanaf Levubu het mnr. Fanus Viviers, voorsitter van die Levubu Boerevereniging, berig dat die haelbui ook daar sy tol geëis het.

“Op plekke was die hael so groot soos gholfballe,” het Viviers gesê. Makadamia-, avo- en lietsjie-oeste vir volgende jaar is erg beskadig. Sommige boere het aangedui dat die belofte van ‘n rekord lietsjie-oes in 2011 met die haelstorm verwoes is. Die avoboere wat in 2010 swak pryse gekry het as gevolg van die Transnet-staking, het niks om in 2011 na uit te sien nie. Sommige piesangboere het tot 30% van die oes verloor. Nuut-aangeplante piesangboorde in Levubu het kwaai deurgeloop.

Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou Unie (DLU), het op sy beurt gesê dat hy nou al 15 jaar in Levubu woonagtig is en dat dit die eerste jaar is wat hael soveel verwoesting gesaai het.

“Maar die ou inwoners van die gebied is bekend met die verskynsel en vertel dat dit wel voorheen in die gebied gehael het,” het Hoffman gesê.

Wat betref somerreën het relatief min water geval. By Bandelierkop is 18mm gemeet en by Waterpoort 8mm. Naby die Piesanghoekpad is 10mm gemeet en op Levubu is tussen 10mm en 20mm gemeet.

Alhoewel dit nie baie klink nie, het Hoffman gesê, het boere die reën met groot dankbaarheid ontvang.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines