ADVERTISEMENT:

 

Albert Kruger. Foto: Greyberg Photography.

Albert net ´n ´gewone ou´ met oog op SA-titel

 

News  Date: 29 October 2010

 

Louis Trichardt se eie Mnr. Suid-Afrika-kandidaat, Albert Kruger, het die persoonlikheid, voorkoms en natuurlik die lyf.

Mens sal dink dat hy ´n effense houding het, maar moenie glo nie. Met die intrapslag is dit duidelik dat Albert plat op die aarde staan. In sy eie woorde is hy net ´n "doodgewone ou wat aan die kompetisie deelneem”.

Hierdie 28-jarige entrepreneur wat in Musina grootgeword en skoolgegaan het, het ´n vriend se raad gevolg en ingeskryf vir die 2011 Mnr. Suid-Afrika-kompetisie. In September het die nuus gekom dat hy gekwalifiseer het as een van die 50 semi-finaliste.

Dit beteken egter nie dat hy net ‘n mooi gesiggie moet wees nie. Hy sal saam met die ander finaliste moet inspring en moue oprol. Daar word van elke finalis verwag om geld in te samel vir die Chrysalis Foundation, hetsy dit nou is om funksies of fondsinsamelingsprojekte te reël. Hierdie organisasie reik uit na getraumatiseerde meisies tussen die ouderdomme van 14 en 18 jaar deur hulle noodsaaklike lewensvaardighede te leer.

Boonop tel Jan Alleman se opinie ook. Daar is ‘n SMS-lyn waardeur mense vir hul gunsteling finalis kan stem vir ´n plek in die top 12.

"Op die ou end sal mense se bystand met die projek, asook hulle SMSe, die verskil maak tussen nommer 13 en 12," het Albert gesê.

Verder moet die geskikte kandidaat onder andere ook beskik oor ‘n aangename persoonlikheid, ‘n passie vir die lewe, ´n gebalanseerde lyf en hardwerkend wees.

Albert is beslis geen uitsondering nie en is gek na avonture. Ná skool het hy, soos baie van sy klasmaats, eers in Brittanje gaan werk. Met die geld wat hy gespaar het, het hy teruggekom en homself bekwaam. ‘n Eie onderneming, AA Printing Supplies, het gevolg in 2006, nadat hy ´n diploma in bemarking verwerf het.

Hierdie onderneming het van Albert ‘n ambassadeur gemaak vir opkomende entrepreneurs. In 2009 open hy sy tweede onderneming, LTT Cartridges.

“Wat ek graag vir die mense wil bewys is dat ‘n gewone ou wat net hardwerkend is, met ‘n bietjie effort dinge kan bereik, wat elite geag word,” het Albert verduidelik.

So tussendeur al die korporatiewe papierwerk, knyp Albert ook tyd om af te oefen en sy adrenalien-verslawing te voed - nog ´n groot passie. Soveel so dat hy nie aan ‘n gym behoort nie, maar eerder fiks bly deur aan bergfiets- en ander avontuuruitdagings deel te neem. Anders oefen hy sommer in sy eie tuin.

As Albert wel as die begeerlikste man in Suid-Afrika aangewys word, sal hy graag met jongmense en kinders wil werk. “Veral waar dit entrepreneurskap aangaan. Dit maak ‘n verskil, veral in ‘n land soos ons s´n waar daar nie baie werksgeleenthede is nie,” het hy gesê.

Die afsnydatum vir die finaliste se insamelingsprojekte is 30 November, waarna die twaalf finaliste op 6 Desember aangekondig sal word. Om vir Albert te stem, kan die sleutelwoord MRSA 19 per SMS gestuur word na 34008.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines