ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Hannes Strydom van Kotek Staalwerke in die industriële gebied van Louis Trichardt by die perseel se watermeter, wat glad nie in ‘n werkende toestand is nie. Nogtans het hy ‘n buitensporig-hoë waterrekening ontvang.

Rekening beloop duisende, maar lesings nie geneem

 

News  Date: 29 October 2010

 

Hoe kry mens ‘n waterrekening van meer R44 000, terwyl die watermeter nie werk nie en die minimum water gebruik word?

Dit is frustrasies waarmee mnr. Hannes Strydom van Kotek Staalwerke in die industriële gebied van Louis Trichardt worstel. Wat dit nog erger maak, is die feit dat dieselfde probleem van ‘n skielike hoë waterrekening al oor die afgelope dekade ‘n klomp keer kop uitgesteek het.

“My watermeter werk glad nie. Ek het die munisipaliteit al ‘n paar jaar gelede uitgekry en hulle het tot foto’s van die stukkende meter geneem en sou dit vervang het. Nou moet hulle vir my bewys waar hulle aan hierdie rekening kom voor ek enige iets betaal,” sê Strydom.

In die verlede het Strydom al ‘n deskundige van Tzaneen gehuur om sy rekening uit te sorteer. Hy koppel instrumente en bepaal wat die werklike verbruik is.

“Dit het my ‘n arm en ‘n been gekos en dit het die deskundige ‘n paar jaar geneem om die saak op te los. Ander kere het ek self my dae omgesit en baklei by die rekeninge departement. Nou begin dit al weer. Dit is nou te erg,” sê Strydom.

‘n Paar maande gelede verskyn daar weer uit die bloute ‘n buitensporige hoë bedrag by sy waterlesing. Hy ontvang ‘n brief gedateer 16 September vanjaar wat sê dat hy R44, 282.90 skuld vir water. Saam met al die belasting en rente beloop sy totale rekening meer as R67 000. Op die jongste rekening, gedateer 18 September, het die bedrag al opgeloop tot meer as R70 000. Watermeterlesings word aangegee, terwyl die watermeter nie werk nie.

Strydom sê dat by sy staalwerke daar ‘n paar personeellede is en dat hulle hande was, die toilet gebruik en ongeveer een maal per week die stort by die werk gebruik. Die industrie self gebruik nie water nie.

Strydom gebruik die industriële perseel al meer as 15 jaar lank.

“Ek het al oopgegrawe om te kyk of daar pype is wat lek. Daar is nie ‘n lek nie. Die meter staan al jare op dieselfde getal. Hierdie rekeninge word uit hulle duim gesuig,” sê Strydom. Op party rekenings word ‘n verskillende begin- en eindlesing van die watermeter aangedui. Op ander rekenings is die begin- en eindlesing dieselfde, maar geen lesing stem ooreen met die syfers op die stukkende watermeter nie.

“Waar kry hulle die waterlesings en hoe kry hulle die rekening uitgewerk? Dis wat hulle vir my moet bewys,” sê Strydom. By die munisipaliteit is vir hom gesê dat hy eers moet betaal en dan sal hulle die rekening uitsorteer. Dit is nie vir hom aanvaarbaar nie.

“Ek sal nou moet aansluit by die belastingbetalersvereniging,” sê Strydom.

Sy eggenoot, me. Christa Strydom, het ook al hand bygesit en munisipaliteit toe gegaan. “Hulle stuur jou van die een ou na die ander. By die rekeninge-afdeling is dit chaos; jy mors jou tyd daar,” sê Christa.

Die vrae rondom die stukkende meter en die uitwerk van die waterlesing en rekening is aan die munisipale woordvoerder per e-pos en faks gestel op 11 Oktober. Die munisipaliteit is ook gevra wat hulle plan van aksie is om Strydom se probleem op te los. Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het gesê dat hy die week van 11 Oktober uit die kantoor was, asook op 18, 19 en 20 Oktober, maar dat hy op Donderdag, 21 Oktober sou antwoord. Navrae is op 21 Oktober herhaal aan die munisipale bestuurder, asook die woordvoerder, wat geantwoord het dat hy Vrydag, 22 Oktober of Maandag 25 Oktober sou antwoord. Die munisipale bestuurder het op Maandag op ‘n ander navraag voorlopig geantwoord, maar nie op die navraag van die hoë waterrekening nie. Hy het gesê dat hy op Maandag besig was met rampskade en dat hy die res van die week uit die kantoor sou wees, maar dat hy opdrag sou gee dat die navraag beantwoord word. Teen druktyd is nog geen antwoord ontvang nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines