

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 November 2010
Wie is nou eintlik verantwoordelik as ou Wagter die dag uitkom en iemand byt? Of is dit ´n geval van elke hond en mens vir homself?
Dit is ‘n vraag wat ‘n bejaarde inwoner, mev. Rina Breytenbach (72), haarself afvra, nadat sy Dinsdagoggend deur haar bure se groot labrador aangeval is.
Tannie Rina se drie geliefde hondjies, wat agter die huis toegemaak word, het Dinsdag verby haar geglip toe die hek oopgemaak is. Daar is inderhaas probeer om al drie die brakkies weer binne toe te jaag, maar Tannie Rina het maar gesukkel aangesien sy swaar loop.
“Daar is een hondjie wat moeilik is om te vang,” het Tannie Rina vertel na die voorval.
Terwyl Tannie Rina besig was om al haar hondjies bymekaar te maak, het daar ‘n voertuig voor die hek van die oorkantste buurman gestop. Binne ´n oogwink het die buurman se honde ook by die oop hek uitgestorm, reg op Tannie Rina en haar drie brakkies af.
Een van Tannie Rina se worshondjies het hom boeglam geskrik vir die groot gevaarte wat hier op hom afstorm en het agter tannie Rina gaan skuiling soek.
“En toe gryp daai boosaardige hond my!” vertel Tannie Rina.
In die proses het die buurman se hond ‘n paar happe aan Tannie Rina se bene gevat. Die buurman se ander twee honde het hulle intussen toegespits op Tannie Rina se ander hond, hom gebyt en oor die straat gesleep.
Bloeiend, met gate in haar bene, het Tannie Rina vergeefs probeer om die hond te verwilder. Geluk by die ongeluk het die hond omgedraai en is ook agter Tannie Rina se ander hondjie aan die straat af. Gelukkig het haar tweede hondjie sy aanvallers ontglip en is vinnig die huis in.
Volgens Tannie Rina het die buurman geen poging aangewend om haar te help nie.
“Ek het vir hom geskreeu, vang net die hond, want ek het te seer gehad.”
Nadat al die honde weer onder beheer gekry is, moes Tannie Rina ‘n klem-in-die kaak inspuiting kry. Haar dokter het ook vir haar ‘n kursus antibiotika voorgeskryf.
Die buurman is versoek om die rekening te vereffen.
“Ek het vir hom gesê hy moet die doktersrekening, die inspuiting en die antibiotika betaal en toe sê hy net ´No ways´. Hy het sy hande in die lug gesteek, omgedraai en geloop,” het Tannie Rina gesê.
Volgens dr. Suwil Rudolph van die firma Van Heerden & Rudolph Prokureurs maak die wet voorsiening dat ´n eienaar aanspreeklik gehou kan word vir sy dier se doen en late.
"Die groot vraag wat gevra moet word, is of die hond teen sy normale aard opgetree het," sê Rudolph. In hierdie geval blyk dit nie die geval te wees nie. Honde baklei.
"En as jy daar gaan inmeng, gaan hulle jou byt," sê Rudolph.
Wat betref moontlike regsaksie van Tannie Rina teen die buurman, was Rudolph van mening dat daar eers mooi gedink moet word hieroor. Haar mediese onkoste beloop ´n paar honderd rand. Sou die saak in die hof draai, kan haar onkoste duisende beloop as sy verloor. In hierdie geval het beide partye se honde uitgekom wat, volgens Rudolph, vir ´n baie interessante hofsaak sal maak, omdat die saak beide kante toe kan gaan.

ADVERTISEMENT:
