ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Quentin Thompson (38).

Hof sê Thompson het nie ingemeng in ondersoek nie

 

News  Date: 05 November 2010

 

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal eersdaags weer ‘n keer moet verduidelik, nadat ‘n sakeman van Louis Trichardt wat verlede jaar gearresteer is, onskuldig bevind is. Mnr. Quentin Thompson (38), mede-eienaar en werkswinkelbestuurder van Thompson’s Motors, se regsverteenwoordiger, Dr. Suwil Rudolph, het vandeesweek gesê dat sy kliënt van voorneme is om die SAPD te dagvaar vir onregmatige arrestasie. Thompson het verlede Donderdag in die plaaslike distrikshof verskyn op ‘n klag van die verhindering van die polisie in die uitvoering van hulle pligte. Die klag spruit uit ‘n voorval op 21 Julie verlede jaar, toe polisielede van Johannesburg, wat ‘n klag van motordiefstal ondersoek het, sonder enige seremonie by Thompson’s Motors ingestorm het. Altesaam nege speurders het dié betrokke dag opgedaag om een van die voertuie wat in die werkswinkel gestaan het, te ondersoek. Thompson is gearresteer, nadat daar ‘n woordewisseling tussen hom en die speurders uitgebreek het, toe die speurders glo geweier het om hulself te identifiseer. Na ‘n angsnag in die plaaslike polisieselle, waartydens Thomspon deur twee mede-gevangenes aangerand is, is borg eers die volgende dag vasgestel. Altwee die gevangenis, Gift Ramokgopa (23) en Thilivhalo Ramukhuvhathi (21), is later aangekla en op 15 September 2009 gevonnis tot gevangennisstraf en strawwe boetes. Aanvanklik is Thompson gearresteer op altesaam vier klagte. Dit het ingesluit een klag vir die besit van ‘n vermoedelik-gesteelde voertuig, een klag vir dwarsboming van die gereg, een klag van die verhindering van die polisie in die uitvoering van hulle pligte en een klag van die aanranding van ‘n polisiebeampte. Met die aanvang van sy verhoor is die ander drie klagte teen hom laat vaar en is hy net aangekla van verhindering van die polisie in hul pligte. Tydens die verhoor het die Staat se getuies klei getrap. Volgens dr. Rudolph was daar na die getuienis drie weergawes van die gewraakte dag se gebeure en aldrie weergawes het mekaar weerspreek. Een van die Staat se eerste getuies, kapt. Muhlange, het tydens ‘n vorige verskyning getuig dat hy nie deur Thompson gehinder is terwyl hy die voertuig se VIN-nommer ondersoek het nie. Hy het ook verder getuig dat hy nie homself aan Thompson geïdentifiseer het nie, omdat dit glo sy hoofde se plig was om hulself te identifiseer. Thompson en sy pa, mnr. Peter Thompson, moes ook getuig, nadat ontslag deur die hof geweier is. Die hof het in sy uitspraak bevind dat Thompson nie die polisie gehinder het in die uitvoer van hul pligte nie en dat die polisie trouens beslag gelê het op die betrokke voertuig.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines