

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 November 2010
Wihan Pieterse se dae van ongemaklike rug- en nekstutte is byna verby.
Die 13-jarige Wihan van Louis Trichardt is terug by die huis, nadat daar noodgedwonge aan sy nek geopereer moes word. Hy het sy nekwerwels beseer in ‘n fratsongeluk op ´n springmat in September vanjaar.
Wihan se nekwerwels het so geskuif dat dit teen sy rugmurg gedruk het. As die werwels verder sou skuif, sou dit die rugmurg binnedring, wat Wihan verlam kon laat. Wihan se dokters het aanvanklik probeer om die werwels weer terug te “trek” deur middel van ‘n nek- en borsstut. Ongelukkig het die stut nie gewerk nie en Wihan het begin kla dat sy linkerarm begin lam voel.
Dit het Wihan se ouers, Sonja en Marius, genoop om Wihan na ‘n spesialis, dr. Jacques du Plessis, in Pretoria te neem vir verdere ondersoek. Geen tyd is verspeel nie. Twee dae nadat dr. Du Plessis Wihan ondersoek het, is Wihan geopereer. Ses skroewe was nodig om die nekwerwels in plek te hou. “Hulle het basies die werwels uitgehaak en toe die skroewe ingesit,” het Sonja verduidelik.
Wihan sterk tans by die huis aan. Hy sal eers volgende jaar weer kan terugkeer skool toe. “Hy moet nog die nekstut dra, maar mag onder geen omstandighede gestamp word of val nie,” het Sonja gesê. As alles goed afloop, sal Wihan teen Desember die harde nekstut verruil vir ‘n sagte een, totdat hy dit glad nie meer hoef te dra nie.
“Ons sal dan ook weet of hy aan sport soos gholf en tennis mag deelneem,” het Sonja gesê. Maar vir eers geniet Wihan sy “ekstra-lang vakansie” saam met sy boetie, Rülke, by die huis.

ADVERTISEMENT:
