ADVERTISEMENT:

 

Toetsstasies weet niks van opskortings nie

 

News  Date: 12 November 2010

 

Die provinsiale departement van Paaie en Vervoer het verlede week aangekondig dat dienste by vyf voertuig-toetsstasies weens beweerde bedrog en wanadministrasie opgeskort is. Dit het egter later geblyk dat die aankondiging voortydig en ondeurdag gedoen is.

Die departement het verlede Donderdag by monde van hul provinsiale woordvoerder, me. Clarissa Naidoo, ‘n verklaring uitgereik en aangekondig dat vyf toetsstasies gesluit is. Dit het ingesluit die publieke (munisipale) toetsstasies op Louis Trichardt en in Thohoyandou, asook die privaat toetsstasie Motortown (Louis Trichardt), BB Truck & Tractor (Polokwane) en Vhavhenda (Sibasa).

By nadere ondersoek blyk dit egter dat daar dalk totale wanorde heers in die Departement se administratiewe afdeling en dat die verklaring voortydig uitgereik is.

Volgens Naidoo is daar besluit om die stasies te sluit, nadat die Nasionale Inspektoraat se verslag sekere probleme by die stasies uitgewys het wat in stryd is met Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (SANS). Die stasies het onder meer nie volgens die voorgeskrewe kwaliteitstelsels gehandel nie, het nie inspeksieverslae ingedien nie, het meer as een voertuig op ‘n keer getoets, meer voertuie getoets as wat wetlik toegelaat word en het nie verpligte SANS-dokumente ingehandig nie.

Twee ondersoekbeamptes by ‘n Polokwane toetsstasie is geskors en moet nog in die hof verskyn. Na aanleiding van die verslag het die LUR van Paaie en Vervoer, me. Pinky Kekana, dit ook goedgedink om 742 rybewyse terug te trek.

Bestuurders en eienaars van die toetsstasies het egter geen kennis gedra van hierdie verwikkelinge nie. Trouens, sommige het eers gehoor hulle dienste is opgeskort nadat hulle daarvan op radionuus gehoor het, of nadat hulle vir kommentaar geskakel is. Geen van die toetsstasies waarmee die Zoutpansberger kontak gemaak het, het enige kennisgewing ontvang van die Departement se voorneme om hulle te sluit nie.

Makhado Munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het verlede Vrydag gesê die munisipaliteit dra geen kennis van die Departement se besluit nie. “Dit is besigheid soos gewoonlik. Jy kan gaan kyk, daar word steeds voertuie getoets. Die departement het ons nie gesluit nie. Dit is die eerste woord wat ons hiervan hoor,” het Bobodi gesê.

Mnr. Eduard Schuch, eienaar van Motortown op Louis Trichardt, het ook Vrydag bevestig dat sy toetsstasie steeds sake doen. “Gister begin kliënte bel en ouens van Pretoria sê: Ja, ons hoor jy is toe,” het Schuch gesê. Volgens Schuch word toetsstasies jaarliks deur ‘n departementele, sowel as SABS-inspekteur besoek. Alle foute word vir die eienaar op ‘n TS5-vorm uitgewys, wat hy binne twee weke moet regmaak, anders staar hy skorsing in die gesig.

Schuch is ook besoek. Dit is egter met hierdie besoek dat dinge begin skeefloop het. Sover dit Schuch aangaan, het hy al sy foute reggestel en die nodige bewyse binne veertien dae deurgefaks na die departement en SABS. Hiervan kan hy bewys lewer. In September, ´n paar maande na die besoek, moes Schuch weer ‘n keer die vorms deurfaks, nadat ‘n departementele amptenaar hom met sluiting gedreig het omdat hy klaarblyklik nie die vorms deurgefaks het nie. ‘n Tweede stel vorms, met bewys dat dit gestuur is, is deurgefaks, maar ook hierdie vorms het klaarblyklik in die departement se wandelgange verlore geraak.

Na Donderdag se aankondiging dat die departement die vyf toetsstasies gesluit het, het Schuch weer kontak gemaak met die inspekteur wat die dokumente moes ontvang en verwerk. Dié het hom gevra om dit vir ‘n derde keer deur te faks. Dit sou egter later aan die lig kom dat die inspekteur se faksmasjien buite werking is. Dit was vir Schuch duidelik dat iemand by die departement nie sy werk doen nie en dat hulle nou vir die gelag moet betaal.

BB Truck & Tractor het na aanleiding van Naidoo se verklaring reeds regshulp ingewin. Volgens hul regsverteenwoordiger, mnr. Benno de Klerk van Davel De Klerk & Kgatla, word ‘n openbare verskoning geëis van die departement. Daar is ook verskonings geëis van nuusinstansies wat die verklaring gepubliseer of uitgesaai het. “Tot op hede het ons nog niks gehoor van enige iemand nie,” het De Klerk Dinsdag gesê.

Die Zoutpansberger is na die departement se Bestuurder van Vervoer en Veiligheid, me. Jane Mulaudzi, verwys vir kommentaar. Mulaudzi het volgehou dat die toetsstasies se dienste opgeskort is en die stasies se bewerings dat hulle nie van hul sluiting ingelig is nie, afgemaak as infame leuens. “Hulle jok! Almal is in kennis gestel dat hulle nie meer voertuie mag toets voordat hulle nie die korrektiewe aksies voltooi het nie,” het sy gesê.

Mulaudzi was onwrikbaar, maar nadat sy meegedeel is dat Motortown bewyse het dat hulle betyds die nodige dokumentasie aan die departement gestuur het, het sy bloot gesê hulle moet “na vore kom met hulle bewyse van korrektiewe stappe wat geneem is.”

Wat BB Truck & Tractor betref, het die departement klaarblyklik ‘n tweede verklaring uitgereik. Luidens hierdie verklaring is BB Truck & Tractor se dienste nie opgeskort nie, maar is daar wel twee van hulle ondersoekbeamptes geskors. Hierdie verklaring is aangevra van Naidoo, maar teen druktyd is dit steeds nie ontvang nie.

Wat die gekanselleerde rybewyse betref het Mulaudzi aanbeveel dat die publiek moet skakel met hul plaaslike munisipaliteit. “Daar moet eers bepaal word hoekom die lisensie gekanselleer is, voordat daar ‘n nuwe lisensie uitgereik sal word. In sommige gevalle sal daar dalk van vooraf aansoek gedoen moet word,” het Mulaudzi gesê. 

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines