

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 November 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Operasie wildvang is hierdie week in volle swang by die Ben Lavin Natuurreservaat.
Aanvanklik het die aankoms van leë wildtrokke bespiegelings laat ontstaan dat die natuurreservaat dalk bankrot is en die wild verkoop word. Gelukkig is daar geen grond vir sodanige kommer nie en die operasie om wild te vang en te verkoop is 'n jaarlikse roetine operasie.
Mnr. Victor Manavhela, bestuurder van die Ben Lavin Natuurreservaat, het Dinsdag gesê dat tien basterhartbeeste geïdentifiseer is om gevang en verkoop te word.
Die wildvangers gebruik drie mediumgrootte wildtrokke en 'n helikopter om die wild in die vangnette in te jaag. Inspuitings kan moontlik ook gebruik word om die stres by die diere te verlig.
Die inkomste wat deur die vang en verkoop van die bokke gegenereer word, word aangewend vir die natuurreservaat. Mnr. Manavhela sê dat dit meer lonend is om wild lewendig te vang en te verkoop as populasie beheermaatreëls. Verlede jaar is die populasie beheer deur uitskiet en die jag van trofeë. Manavhela sê dat hulle nie die wild verkoop as gevolg van die droogte nie, omdat hulle tans genoeg weiding het. Hy het egter bygevoeg dat meer reën welkom sal wees.
Manavhela, wat sedert September vanjaar die natuurreservaat bestuur, het die publiek gerusgestel deur te sê dat "Ben Lavin waarskynlik 'n natuurreservaat sal bly tot die einde van die wêreld!" Die Manavhelagroep het in Augustus 1996 'n grondeis ten opsigte van die natuurreservaat aanhangig gemaak. WESSA (Wildlife and Environment Society of South Africa), aan wie die grond en natuurreservaat bemaak is deur Ben en Molly Lavin, het nie die eis teengestaan nie. Op 13 April 2002 is die grond teruggehandig aan die Manavhela gemeenskap. Die Ben Lavin Natuurreservaat is sedertdien bestuur deur die Ben Lavin Trust en WESSA, in vennootskap met die Manavhela gemeenskap. Die voorsitter van die plaaslike gesamentlike bestuurskomitee is mnr. Peter Menné. Mnr. Menné het gesê dat die reservaat tans swakker ondersteuning van die publiek geniet. Hy het dit toegeskryf aan die feit dat minder toeriste heen en weer na Zimbabwe reis en dat daar dus minder toeriste is wat in die reservaat oornag.

ADVERTISEMENT:
