ADVERTISEMENT:

 

Twee vas ná Greyvenstein-moorde

 

News  Date: 19 November 2010

 

Enkele ure ná die Greyvenstein-egpaar van Musina begrawe is, is twee mans in verband met hul gru-moord gearresteer. Die twee geharde misdadigers is verlede Vrydagaand in die Esigodini-area naby Bulawayo in Zimbabwe in hegtenis geneem.

‘n Zimbabwiese polisiewoordvoerder, hoof superintendent Hosiah Mukombero, het Maandag gesê die mans is tydens ‘n gesamentlike operasie deur die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese polisie aangekeer. Beide mans word ook verbind met ‘n moordsaak in Zimbabwe. Mukombero het gesê die twee verdagtes word aangehou in die Beitbrug polisieselle.

“Ons hou hulle aan, want hulle help ons met die ondersoek,” het hy gesê.

Die 54-jarige mnr. Johan Greyvenstein en sy 53-jarige vrou Annelise is Donderdag, 4 November dood aangetref in hul bakkie, digby hul plaaswoning op die Cassel-plotte buite Musina.

Mnr. Greyvenstein het ‘n koeëlwond agter die linkeroor gehad. Provinsiale polisiewoordvoerder lt- kol. Ronel Otto het hierdie week bevestig dat mev. Greyvenstein ook in die kop geskiet is. Die egpaar is vermoedelik reeds op 2 November vermoor, nadat hulle vroeër die dag inkopies op Musina gaan doen en vir hul dogter gaan kuier het.

Net die egpaar se skoene is vanaf die moordtoneel vermis. Hulle inkopies was nog onaangeraak agterop die bakkie. Daar is wel by hul huis ingebreek. ‘n Hoekslyper is gebruik om die kluis in die huis oop te sny en slegs mnr. Greyvenstein se rewolwer is gesteel. Die res van die huis was onaangeraak.

Volgens die Zimbabwiese polisie word daar vermoed dat die twee mans kort ná die moord gebruik gemaak het van ´n onwettige deurgangspunt langs die Limpoporivier om na Zimbabwe te vlug.

Volgens Mukombero was altwee die verdagtes in diens van mnr. Greyvenstein.

“Die twee verdagtes is deur mnr. Greyvenstein afgedank en het hom en sy vrou na bewering voorgelê en vermoor,” het Mukombero gesê.

Teen druktyd kon die Suid-Afrikaanse polisie nog net die arrestasie bevestig. Daar was nog geen aanduiding van ‘n uitleweringsooreenkoms tussen die twee lande nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines