

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 November 2010
Skaars twee weke na die dubbelmoord op die Greyvenstein-egpaar van Musina, is nog ‘n boere-egpaar van die Soutpansberg wreed op hul plaas vermoor. Die liggame van die 65-jarige mnr. Blom van der Lith en sy 54-jarige eggenoot, Henna, is Dinsdag op die egpaar se plaas Zwartklip gevind. Die plaas is geleë sowat 3km buite Vivo op die Schiermonikoog-pad. ‘n Plaaswerker, wie se identiteit teen druktyd nog onbekend was, is ook vermoor. Dié skokvonds is gemaak, nadat ‘n persoon wat lusern op die plaas wou kom koop, op die plaaswerker se liggaam afgekom het en die polisie ontbied het. Met die polisie se aankoms op die toneel is mev. Van der Lith se liggaam in die huis gevind. Haar hande was vasgebind. Mnr. Van der Lith se lyk is na ‘n intensiewe soektog sowat 800m vanaf die plaashuis aangetref. Sy lewelose liggaam was aan waterpype vasgebind. Provinsiale polisiewoordvoerder lt-kol. Ronel Otto het by navraag gesê dit wil voorkom asof die moorde reeds ‘n paar dae vantevore plaasgevind het. Die Greyvensteins se liggame is ook eers ‘n paar dae na hul moord gevind. Die grumoord op die Van der Lith-egpaar het die Soutpansberg-gemeenskap met afgryse en woede gevul. Volgens mnr. Japie van der Goot, voorsitter van die Bobrak Boerevereniging, wil dit voorkom asof beide mnr. en mev. Van der Lith doodgemartel is. Mev. Van der Lith was besig om frikkadelle te maak toe sy oorval is. Die motief vir die moorde is onbekend, aangesien niks tydens die aanval op die egpaar gebuit is nie. “Oom Blom se bakkie is 20m van sy lyk in digte bosse gekry, met sy jaggeweer nog steeds in die voertuig. Geen elektroniese toerusting word uit die huis vermis nie. Wyle Tannie Henna se juwelekissie en haar beursie is in die kamer gevind waar sy vermoor is,” sê Van der Goot in ‘n mediaverklaring. In die Greyvensteins se geval is slegs die egpaar se skoene vanaf die moordtoneel vermis, alhoewel daar wel by hul huis ingebreek en ‘n rewolwer uit ‘n kluis gesteel is. Die res van hul woning was onaangeraak. Volgens Van der Goot wil dit voorkom asof daar ‘n konfrontasie tussen mnr. Van der Lith en ‘n werknemer kon gewees het, aangesien daar berigte was van probleme met die lusernverkope. “Wanneer ‘n lid van die kabinet na wat berig word aangedui het dat landbouwerkgewers hulle werkers sleg hanteer en dat dit die rede is waarom hulle vermoor word, dan moet gevra word of dit die ‘regverdiging’ is waarna sommige gryp om dade van barbaarse marteling te regverdig?” het Van der Goot gevra. Hy het ook gevra op watter stadium behoort lede van die kabinet en van politieke partye verantwoordelik gehou te word vir hul uitsprake en of daar ‘n verband getrek kan word tussen hul uitsprake en hierdie tipe onmenslike optrede. “Ek wonder of daar enige beskaafde land in die wêreld is waar ‘n minderheid so koelbloedig uitgeroei word, sonder dat die regering van die dag ‘n vinger verroer en eerder maatreëls wat daardie minderheid tref om hulself op eie koste te verdedig, wil verbied,” was mnr. Doors le Roux, voorsitter van die TLU SA Noord se veiligheidskomitee, se reaksie. Hy het gesê dat die optrede deur gewetenlose, gewelddadige en onbeskaafde kriminele uitgevoer word. “’n Klas mense wat nie in ‘n beskaafde wêreld hoort nie,” het Le Roux gesê. Hy het ‘n beroep gedoen op die internasionale gemeenskap om die plaaswagstelsel te help met befondsing, “aangesien die regering skynbaar nie belangstel om iets aan plaasaanvalle en -moorde te doen nie.” “Net soos wat die beskaafde wêreld reageer wanneer ‘n bedreigde spesie soos die renoster uitgemoor word, net so behoort daar internasionale ondersteuning te wees vir die aksies om plaasbewoners te beskerm,” het Le Roux gesê. Intussen is daar uit Zimbabwe berig dat twee mans in verband met die Greyvenstein-moorde aangekeer is. Beide mans was voorheen werksaam vir die Greyvensteins. Lees meer hieroor elders in hierdie uitgawe. Wat die Van der Lith-moorde betref, was daar teen druktyd nog geen aanduiding van enige arrestasies nie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
