

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 November 2010
‘n Prominente ankerfiguur in plaaslike landboukringe en lid van een van die bekendste pioniersfamilies in die streek, mnr. Manie Eloff, is Woensdag op Louis Trichardt te ruste gelê. Oom Manie is verlede Donderdag (11de) op sy 83ste verjaardag oorlede.
Die begrafnis is gelei vanuit die Gereformeerde Kerk op Louis Trichardt. Hy is langs sy eerste eggenote, Henela, begrawe. Henela het Oom Manie 40 jaar gelede ontval. Hy is in 1996 weer getroud met die weduwee Marthie Jäckel, gebore Cronje.
Die geslagtelange lojale verbintenis tussen die landboufamilies Eloff en Mathoko is tydens die begrafnis op treffende wyse beklemtoon, toe lede van die Mathoko-familie saam met Oom Manie se kleinkinders deel was van die eerste span draers. Die Mathoko-familie is deur ‘n permanente werkerstrust volwaardige aandeelhouers en ná vier geslagte steeds aktiewe deelgenote in die voortgesette Eloff-boerdery, wat onder meer bedryf word op die Klipput familieplaas. Die plaas is ‘n eeu gelede aangekoop deur Oom Manie se oupagrootjie aan moederskant, Johannes Frederik Janse van Rensburg (Radikoffie). Oom Manie se Eloff-voorsate het indertyd saam met Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter by Schoemansdal aangekom en tydens die Anglo Boere-oorlog was sy pa as kind in die destydse Pietersburg konsentrasiekamp.
Oom Manie het hom in 1978 voltyds op die boerdery op Klipput toegespits, nadat hy vir bykans ‘n kwarteeu verbonde was aan die Mara Landbounavorsingstasie. Vir 23 jaar lank was hy die verantwoordelike beampte op die navorsingstasie, waar hy in samewerking met prof. Jan Bonsma ten nouste betrokke was by die ontwikkeling van die Bonsmara beesras. Hy was ook vir 14 jaar voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie en tot sy dood ‘n lid van die TLU SA.
Oom Manie was die jongste van vier seuns wat op Daviesville naby Zoekmekaar hul laerskoolloopbane voltooi en aan Pietersburg Hoërskool gematrikuleer het. Sy oudste broer, Japie, is reeds jare gelede oorlede. Hannes, wat professor was in Argeologie en Volkekunde by die Universiteit van Pretoria, is in 2007 oorlede. Frits, professor in plant- en dierkunde, wat ook Noord Transvaalse rugbykaptein en baie jare by rugby administrasie betrokke was, leef nog. Hy is 90 jaar oud en die skrywer van die belangwekkende boek Jagters van die Duine, oor die leeus van die Kalahari. Later vandeesmaand (26 November) word sy tweede boek, ‘n werk oor die woestynolifante van die Kaokoveld, bekend gestel.
Drie van Oom Manie se vyf seuns ( Frits, Hannes en Kosie) is aktief in die landbou betrokke op die familieplase by Bandelierkop en Soekmekaar. Manie junior is betrokke by die sekuriteitsbedryf in Maputo en Johan is verbonde aan ‘n finansiële-dienste onderneming in Midrand.
Onder die tweede span draers by die begrafnis, saam met die vyf broers, was ook Leon Lampbrecht, seun van die bekende veldwagter Ben Lampbrecht. Hy het vir die begrafnis ingevlieg vanaf Tanzanië, waar hy by ‘n groot jagonderneming werk.
“Hy is vir ons soos ‘n broer,” het die Eloff-seuns gesê.
Die gesin Eloff het vandeesweek groot waardering uitgespreek teenoor almal wat op verskillende wyses hul ondersteuning en deelname betoon het, ook met boodskappe en met die bywoning van die begrafnis.
Oom Manie word oorleef deur sy eggenote Marthie, sy kinders en 14 kleinkinders.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
