

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 November 2010
Skaars twee weke nadat Levubu deur ‘n verwoestende haelstorm getref is, met gepaardgaande oesskade, het nog ‘n fratsstorm dié streek getref.
Stormskade van etlike duisende rande is verlede Woensdagaand (10de) weer deur hael aangerig aan oeste in die Levubu-omgewing.
Volgens ‘n boer van die omgewing, mnr. Louis Venter wat aan die oostekant van die plaas Laatgevonden boer, het die storm sowat tien minute geduur.
“Die storm het so teen 17:30 begin. Ons het 50mm reën gemeet,” het Louis gesê.
‘n Vernietigende stormwind, wat met hael gepaardgegaan het, het deur sy piesang- en neutboorde getrek, terwyl uitgebreide skade ook aan plaasinfrastruktuur aangerig is. Die meeste bome en plante in die omgewing van sy plaasopstal is afgebreek deur die wind en hael. By ‘n groot stoor het die stormwind van die pilare uit die grond geruk en ‘n groot gedeelte van die stoor se muur het inmekaar getuimel.
Teen Woensdag het Louis sy skade beraam op sowat R500 000 en was hy nog steeds besig om sy boorde skoon te maak en gebreekte bome weg te ry.
“Ek het sowat 8ha van my piesangbome verloor en nog 350 neutbome,” het Louis gesê.
Die haelstorm het nie net hierdie jaar se piesangoes vernietig nie, maar ook volgende jaar se oes.
Nog ‘n boer van die omgewing, mnr. Herman de Jager, het weer vertel dat sy plaas nie deur die hael getref is nie, maar deur die stormwind. Ongeveer 180 van sy neutbome is in die proses uitgewis.
Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou Unie (DLU), het vandeesweek gesê die storm het net plek-plek skade aangerig. “Dit was ‘n snaakse storm wat net hier en daar spore gelos het,” het Stephen gesê.
Alhoewel dit nie verlede Woensdag in Louis Trichardt gehael het nie, was daar enkele inwoners wat ook haelskade opgedoen het. Een inwoner, dr. Labuschagne, het haelkorrels so groot soos gholfballe in die omgewing van die Adam´s Apple en Lalapanzi hotel opgetel. Veral motoriste op die N1 het deurgeloop tydens die haelstorm. Een van hulle was mnr. Louis Linde, hoof van Laerskool Louis Trichardt. Die voertuig waarin hy gery het, is erg vol duike geslaan.

ADVERTISEMENT:
