ADVERTISEMENT:

 

Crossberg (jr.) slaan glo man dood

 

News  Date: 26 November 2010

 

‘n Jong man van Musina het Dinsdag, 16 November, in die hof op Musina verskyn op ‘n klag van moord.

Die klag teen die 21-jarige Magnus Crossberg hou verband met ‘n voorval twee dae vantevore, nadat hy glo ‘n Zimbabwiese man doodgeslaan het.

Provinsiale polisiewoordvoerder lt. kol. Ronel Otto het verlede Donderdag die voorval bevestig. Luidens Otto se verklaring het Crossberg die Zimbabwiese man met sy vuiste toegetakel, waarna die man later dieselfde dag in die hospitaal beswyk het aan sy wonde. Die oorledene se identiteit kon teen druktyd nog nie bevestig word nie.

‘n Bron na aan die Crossberg-gesin het egter hierdie week vertel dat Crossberg Sondagmiddag (14de) saam met ‘n vriendin besig was om ‘n wegneem-ete by die Nando’s op Musina te bestel, toe die man hulle genader het. Die man was glo besope en het Crossberg se vriendin, wat in die motor gewag het, geteister.

Nadat Crossberg die man gevra het hom hulle met rus te laat, het die man glo ‘n baksteen opgetel om Crossberg mee by te dam. In die proses het die man agteroor gesteier en sy kop teen die randsteen gestamp, waarna hy eers ‘n dag later oorlede is.

Crossberg se regsverteenwoordiger, mnr. Hennie Erwee, het die afgelope week gesê Crossberg het nooit ‘n vinger gelig teen die man nie.

“Die man was besope en het in die straat rondgeslinger, waarna hy geval het en sy kop teen die sypaadjie gestamp het. Twee sekuriteitswagte wat die hele ding sien gebeur het, het ook hulle verklarings by die polisie ingedien,” het Erwee gesê.

Volgens Erwee het Crossberg homself oorgegee aan die polisie, waarna hy Dinsdag in die hof verskyn het.

Crossberg is vrygelaat op R5 000 borg en sy saak is uitgestel tot 13 Desember om die polisie kans te gee om die saak verder te ondersoek. Daar word ook gewag vir die nadoodse ondersoek.

Crossberg se pa, Jewel (51), het in April 2007 die land aan die gons gehad, nadat hy in die Polokwane Hooggeregshof deur regter Ronnie Boshielo daaraan skuldig bevind is dat hy Jealous Dube (29), ‘n Zimbabwiër, vermoor het. Hy is ook skuldig bevind op vier klagte van poging tot moord nadat hy op vier van Dube se kollegas geskiet het. Hiervoor is hy tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Crossberg snr. het Dube in Junie 2004 op sy plaas, Vogelenzang, doodgeskiet. Tydens sy hofsaak het hy aangevoer dat hy Dube vir ‘n bobbejaan aangesien het en toe op hom geskiet het.

In Maart 2008 is Crossberg snr. se vonnis egter deur ‘n volbank van regters van die Appèlhof in Bloemfontein tersyde gestel. Destyds was dit die tweede keer in die geskiedenis wat die Appèlhof moes ingryp met ´n borgaansoek. Crossberg se regspan het in ‘n ongehoorde stap, ‘n borgaansoek direk by die Appèlhof in Bloemfontein gebring, asook ‘n petisie-aansoek teen regter Boshielo se uitspraak.

Die hof het hom gelyk gegee dat die omstandighede in sy saak eerder ‘n skuldigbevinding aan strafbare manslag regverdig. Derhalwe is Crossberg snr. gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf, waarvan twee jaar opgeskort is vir ‘n periode van vyf jaar. Hy is intussen vrygelaat.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines