ADVERTISEMENT:

 

Me. Christie Opperman.

Vrae oor ´prokureur´ se kwalifikasies

 

News  Date: 26 November 2010

 

Vir die afgelope drie jaar het sy as prokureur op Louis Trichardt gepraktiseer, maar nou wil dit voorkom asof sy nooit as prokureur gekwalifiseer het nie.

Hierdie onthulling is vroeg in November deur die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies gemaak in verband met me. Johanna Christina Opperman, of Christie soos sy alombekend is.

Opperman was vir die afgelope vyf jaar verbonde aan die bekende prokureursfirma, Van Heerden & Rudolph. Nadat sy haar twee jaar klerkskap voltooi het, het sy aangebly as ‘n volwaardige prokureur by die firma. Gedurende hierdie tydperk het sy talle kliënte namens die firma verdedig en volgens dr. Suwil Rudolph, van die firma, was daar geen rede tot kommer nie.

“Sy het as ´prokureur´ goeie werk gedoen,” het hy Maandag tydens ´n onderhoud gesê.

Die krake het egter in September vanjaar begin wys, nadat ontstoke “kliënte” by dr. Rudolph begin kla het oor die swak diens wat hulle ontvang. Die meeste van hierdie kliënte was plaaslike prisoniers wat glo opdrag aan Opperman gegee het om vir hulle aansoek te doen om parool. Party het selfs geld oorbetaal vir die aansoeke. By verdere ondersoek kon van hierdie prisoniers se lêers egter nie opgespoor word nie en die klagtes het steeds bly instroom.

Dat daar wel fout was, was duidelik nadat kliënte op navraag bewyse gebring het van die kontant inbetalings wat in Opperman se persoonlike bankrekening gemaak is. Afskrifte van die bankdepositostrokies is ook aan die Zoutpansberger getoon. Bedrae wat wissel tussen R2 500 en R5 000 is aan Opperman oorbetaal. Volgens dr. Rudolph het een ontstoke prisonier selfs dreigemente begin rondslinger toe die ongerymdhede uitgewys is.

Die prokureursfirma Van Heerden & Rudolph het kort nadat hulle bewus geword het van die ongerymdhede ‘n dringende brief aan die prokureursorde gestuur om die aangeleentheid aan te meld vir verdere ondersoek, juis omdat Opperman nie oor ‘n trustrekening beskik nie. “Omdat sy nie ‘n trustrekening het nie, mag sy nie sulke geld ontvang van kliënte nie,” het dr. Rudolph verduidelik.

Die Prokureursorde se antwoordskrywe, gedateer 2 November, was egter soos die spreekwoordelike straal water in die gesig. In hierdie brief het die Orde gemeld dat Opperman nie as ‘n prokureur toegelaat is nie. Opperman se klerkskap het in November 2007 verval, nadat sy nie geslaag het in een van haar vraestelle nie. Hierdie vraestel het deel gevorm van die Prokureursorde se toelatingseksamen wat sy moes slaag, voor sy as prokureur mag praktiseer.

Ná die nuus op die lappe gekom het, is Opperman dadelik gevra om te verduidelik wat aangaan. Haar verweer was egter dat sy wel toegelaat is as ‘n prokureur, maar nagelaat het om die Orde in kennis te stel. Op aandrang van dr. Rudolph kon sy ook nie ‘n toelatingsertifikaat na vore bring nie. Wat betref die geld wat sy ontvang het van haar kliënte het sy verduidelik dat sy dit aan advokate oorbetaal het.

‘n Dissiplinêre verhoor is gereël vir 16 November, maar Opperman het dié betrokke dag haar bedanking laat aflewer by Van Heerden & Rudolph. Sedertdien is die saak formeel aangemeld by die Prokureursorde. ‘n Senior regsbeampte van die Orde se dissiplinêre afdeling, mnr. Jaco Fourie, het Dinsdag per e-pos bevestig dat die klagte teen Opperman ondersoek word.

Volgens dr. Rudolph sal die Orde ook ‘n span stuur om Opperman se lêers te ondersoek om vas te stel of daar enige kliënte is wat skade gely het.

“Ons is bewus van die saak en dit word ondersoek. Ons kan egter nie meer besonderhede verskaf op hierdie stadium nie, omdat die ondersoek nog hangende is,” het Fourie in sy e-pos gesê.

Verdere navraag wat by die Orde gedoen is, het aan die lig gebring dat Opperman steeds as ‘n artikelklerk geregistreer is by die Orde, maar nie as prokureur nie.

Opperman is Dinsdag genader vir kommentaar en was vinnig om die Zoutpansberger mee te deel dat sy besig is om teen die Prokureursorde te prosedeer.

Volgens haar is sy in 2008 toegelaat as ‘n prokureur, maar het sy nagelaat om by die Prokureursorde te registreer. Sy het ook voet by stuk gehou dat sy die nodige toelatingsvraestelle geslaag het. Verder het sy vertel dat sy besluit het om te bedank omdat daar “oorsigte aan beide kante was” en dat sy nou haar papierwerk in orde wil kry.

Op ‘n vraag wat sy bedoel met oorsigte, het Opperman verduidelik dat die Prokureursorde nagelaat het om haar te laat weet dat sy nie geregistreer is nie.

“Op my navraag het die Orde vir my gesê ek is nie op hulle boeke nie, maar in Augustus het hulle my nog uitgenooi na ‘n seminaar,” het Opperman vertel.

Sy het ook verder opgemerk dat dit Van Heerden & Rudolph se plig was om haar jaarlikse fooie aan die Prokureursorde oor te betaal, maar dat hulle dit nooit gedoen het nie. Opperman kon egter nie bewyse lewer dat sy wel haar toelatingseksamen geslaag het nie. Volgens haar is al hierdie dokumente, saam met haar toelatingsbevel, in 2008 ingedien. Sy is tans in die proses om afskrifte van hierdie dokumente aan te vra om aan die Prokureursorde te bewys dat al haar papierwerk in orde is.

Wat betref die geld wat sy ontvang het van haar privaatkliënte het Opperman erken dat sy gefouteer het. “Ek moes hulle nie gehelp het nie, dit was ‘n fout,” het sy gesê.

Oor die geld wat sy egter in haar privaat bankrekening ontvang het, was haar verduideliking dat sy per abuis die verkeerde bankbesonderhede aan die kliënte gestuur het. Ander kliënte wat sy gehelp het, het volgens haar hulle geld direk aan die advokate oorbetaal. “Daar is baie van hulle [prisoniers] wat uit is op parool,” het sy gesê.

Ongeag of Opperman meen dat die aangeleentheid niks met iemand anders te doen het nie, gaan die Prokureursorde ‘n span stuur om haar lêers te ondersoek op 9 Desember. Ná hierdie ondersoek sal daar eers vasgestel kan word of daar voortgegaan sal word met verdere stappe teen Opperman.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines