

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 November 2010
Na die kabinetskommeling van President Jacob Zuma einde Oktober vanjaar, skakel die Voorsittersvereniging (VV) nou met ‘n nuwe minister oor die naam van Louis Trichardt.
Dié vereniging, wat die appèlhofsaak gewen het toe die appèlregbank in Maart 2007 uitspraak gegee het dat die verandering van die dorp se naam na Makhado tersyde gestel moet word, het ‘n skrywe gerig aan die nuwe minister van kuns en kultuur, minister Paul Mashatile. Mashatile was voorheen adjunkminister van dieselfde department en vervang me. Lulu Xingwana, wat nou minister van vroue, kinders en gestremdes is.
In dié skrywe, gedateer 17 November, vra die VV die nuwe minister om die inhoud van hulle laaste brief aan Xingwana te oorweeg. Die brief is gedateer 6 Oktober en hulle het nie ‘n antwoord daarop ontvang nie. Daarin het die VV gevra dat Xingwana nie die naamsverandering in hierdie stadium oorweeg nie en die saak terugverwys na die nasionale nameraad, wat dit dan op hul beurt weer moet terugverwys na die provinsiale namekomitee en die Makhado Munisipaliteit. Die VV het ook ‘n onderneming van die minister gevra om ‘n hooggeregshofbevel af te weer.
“Ons vra u om te onderneem om nie die naamsverandering in terme van Afdeling 10 (1) van die Wet (Wet 118 van 1998) te oorweeg alvorens ‘n behoorlike proses nie gevolg is nie. As u nie so ‘n onderneming sou gee nie, sal ons die hooggeregshof moet versoek om u te beveel om nie op hierdie stadium die saak in terme van afdeling 10 (1) van die wet te oorweeg nie. Ons vertrou dat dit nie nodig sal wees om onnodige kostes in hierdie verband aan te gaan nie,” lui die brief.
Afdeling 10 (1) van die wet gee die minister die bevoegdheid om ‘n geografiese naam wat die nameraad aanbeveel het, goed te keur of te verwerp.
Die voorsitter van die VV, mnr. André Naudé, vra minister Mashatile om hulle in kennis te stel indien hy besluit om die saak terug te verwys vir verdere konsultasieprosesse. Naudé vra egter ook dat die VV onmiddellik in kennis gestel sal word indien die minister besluit om die naamsverandering in die staatskoerant te publiseer, sodat die VV hul beswaar tydig kan indien.
Op 17 November, dieselfde dag wat die VV se brief aan die nuwe minister gefaks is, het Mashatile in ‘n nasionale televisienuusuitsending gesê dat hy nog besig is om die voorlegging van die nameraad te oorweeg en dat sy besluit later bekendgemaak sal word.
Die nasionale nameraad het vir die tweede maal in die geskiedenis die naam Makhado vir die dorp aan die minister voorgelê. ‘n Besluit van die minister om ‘n geografiese naam wat die nasionale nameraad aanbeveel, goed te keur, voorveronderstel dat die nameraad tevrede is dat ‘n behoorlike administratiewe proses deur die munisipaliteit en die provinsiale namekomitee gevolg is.
Naudé het Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê dat die VV glo dat daar geen regverdiging is om die dorp se naam te verander nie.
“Ons glo dat daar met hierdie proses meer administratiewe ongeregtigheid gepleeg is as tydens die vorige poging tot naamsverandering,” het Naudé gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
