ADVERTISEMENT:

 

´n Waterbok het ‘n wrede dood gesterf, verstrengel in die lemmetjiesdraad by die Mapungubwe Natuurreservaat. Ongelukkig is dit nie ‘n geïsoleerde voorval nie. Mnr. Hannes en me. Dinah Voight van Louis Trichardt het hierdie foto op 6 November geneem.

Ou grensdraad nou ´n dodelik struikelblok

 

News  Date: 26 November 2010

 

´n Waterbok het ‘n wrede dood gesterf, verstrengel in die lemmetjiesdraad by die Mapungubwe Natuurreservaat. Ongelukkig is dit nie ‘n geïsoleerde voorval nie.

Die rolle lemmetjiesdraad is jare gelede deur die Suid-Afrikaanse Weermag by die Limpoporivier aangebring as beskerming van die land se noordelike grens. Nou dien dit klaarblyklik slegs as lokval vir weerlose diere.

Mnr. Hannes en me. Dinah Voight van Louis Trichardt is gereelde kampeerders by die Mazhoukamp van Mapungubwe. Op Saterdag, 6 November, het hulle op die aaklige gesig afgekom van ‘n waterbok verstrengel in die drade.

“Dit is so afgryslik. Dank die Vader ons het nie gesien hoe sy sterf nie,” het Dinah vandeesweek gesê.

Wat die Voights opgeval het, was dat die boud van die waterbok netjies verwyder was en nie afgeskeur was nie.

“Daar was dié Saterdag baie voetspore van mense in die omgewing. Hoewel dit moontlik is dat die bok geskrik het en in die drade beland het, sal ons nie verbaas wees as sy met ‘n doel daar ingejaag is nie. Geen diere of aasvoëls het aan haar gevreet nie,” sê Hannes. Hannes was self in die weermag en is baie oplettend om voetspore waar te neem. Dit het die Vrydagaand gereën en die stof het mooi gaan lê, sodat die menslike voetspore baie duidelik was.

“Die drade is tot niet en op ‘n paar plekke lê die groot rolle drade nog en verweer. Dit hou nie meer onwettige immigrante uit nie, want ons het self gesien hoe loop hulle daardeur,” sê die Voights.

Die Sondag het hulle weer verby die dooie waterbok gery en geen diere het verder aan die bok gevreet nie.

“Ons was so dankbaar, anders was daar meer diere vasgevang en sou ook wreed gesterf het. Daar het wel ‘n bosbok tussen die lemmetjiesdrade gelê en herkou. Ons het doodstil gesit en wag en gelukkig het sy rustig weggestap. Sou sy geskrik het, was dit ook haar lot om ‘n stadige, pynlike dood te sterf. Nie eens ‘n aanval van ‘n leeu is so wreed as om te spartel in lemmetjiesdraad tot die dood kom nie,” sê Dinah.

Die Voights het die voorval by die kamp aangemeld, asook skrywes gerig aan die televisieprogramme 50/50 en Carte Blanche. “Ons glo sulke voorvalle gaan toeneem, want dis ‘n maklike manier om vleis te kry. Die dodelike strik is klaar reg, jaag net die wild daarin!” sê die Voights.

Dit is nie die eerste keer dat die Voights so ‘n voorval beleef nie.

“‘n Vorige keer het ons ‘n bosbok se karkas in die lemmetjiesdraad gekry,” sê Hannes.

By navraag het die Mapungubwe Natuurreservaat bevestig dat hulle ‘n probleem ondervind dat die diere tussen die heining en die lemmetjiesdraad ingaan. “Die draadheining is ‘n frustrasie vir ons en ons het al talle briewe geskryf aan die betrokke owerhede van die weermag en veeartseny om òf die heining te verwyder, òf te onderhou. Skynbaar het die kontrak om die heining te onderhou verlede jaar verval. Die langtermyn beplanning is dat die Mapungubwe Kulturele Landskap oorgrens uitgebrei word na Botswana en Zimbabwe en dat die heinings dan heeltemal verwyder sal word. Intussen herstel Mapungubwe Bewaring die gate of brekasies gereeld om te probeer verhoed dat die diere in die drade vasgevang word,” het ‘n wildbewaarder, mnr. Stefan Cilliers, hierdie week gesê.

Die heining wat in die park ter sprake is, is ongeveer vier kilometer lank. Buiten waterbokke en bosbokke, word elande, koedoes en impala ook deur die drade afgemaai. Cilliers het gesê dat die moontlikheid nie uitgesluit is dat die diere met opset in die drade ingejaag word nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines