

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 December 2010
‘n Swart Kersfees staar ‘n gesin van Levubu in die gesig, nadat alles wat hulle besit het en gebruik om ‘n lewe mee te maak, in vlamme opgegaan het. Die gesin was gelukkig om met hulle lewe daarvan af te kom.
Maandagoggend om 01:00 toe die Rudolph-gesin nog rustig geslaap het, het pa Hein wakker geword van ‘n sterk rookreuk. Dit het van die spaarkamer, wat hulle as ‘n stoorkamer gebruik, gekom. ‘n See van vlamme en rook het hom ingewag. Die emmer water wat hy daarop uitgegooi het, het geen indruk gemaak nie en eerder na vet op die vuur gelyk. Hulle vier-slaapkamer huurhuis is reg oorkant die polisiestasie op Levubu geleë.
“Ek het besef hier gaan ons doodbrand en het die kinders gaan wakker maak. Die rookwolke was al so dig deur die huis dat jy niks kon sien nie. Die deur se sleutel was weg en ek het gevrees dat ons nie betyds gaan uitkom nie. Gelukkig het my vrou, Angie, iets op die vloer raakgetrap en dit was die sleutel waarna ons gesoek het. Anders het jy geskryf oor vier dooie mense wat verbrand het,” het Hein Dinsdagoggend gesê.
Hein het in die bakkie gespring en hulp gaan soek by die Pretoriusse, wat 300m verder woon. Omdat die selfoon se battery pap was, het Angie die polisie gevra vir hulp, sonder om daadwerklike reaksie te ontvang. “n Huis brand vinnig af,” het Pieter Pretorius junior Dinsdag gesê. "My pa het dadelik saam met Hein na die huis gegaan, terwyl ek die trekker gaan haal het en die spuit gehaak het. In daardie 20 minute het die brand versprei en het die hele huis afgebrand. Beide die brandweer van Louis Trichardt en Thohoyandou het kom help,” het Pretorius gesê. Die vuur het lank gesmeul en teen Maandagmiddag 15:00 het die vlamme party plekke nog ‘n meter hoog gestaan.
Die oorsaak van die brand is nie bekend nie. Rudolph het aan die ondersoekbeampte gesê dat sy eerste gedagte dié van brandstigting was omdat die kamer se venster die naaste aan die pad is. “Maar ons bly nog net so drie of vier maande hier en ek glo nie ons het vyande gemaak nie. In die kamer waar die brand ontstaan het, was ‘n tuimeldroër wat die Sondag deur die dag gewerk het , maar nie in werking was ten tye van die brand nie,” het Rudolph gesê.
Almal se dankbaarhied is groot dat Keagan (6) en Micayla (4) en hulle ouers ongedeerd daarvan afgekom het. Hein is flink met sy hande en sit lugversorgers in. “My hele gereedskapkissie en my boor is daarmee heen. My leer is ook weg. Ek het Sondag ‘n bietjie loodgieterswerk op ons perseel gedoen en die kissie en boor in die huis gebêre en nie soos gewoonlik in die garage nie,” het hy gesê. Naby sy gesmelte boor lê Keagan se uitgebrande fietsie.
Micayla verlang na haar poppies, veral haar Barbies. Sy het die mooiste Barbie-goedjies gehad . Keagan mis sy Ben10 aksie karaktertjies. Hy het Dinsdag ook probeer om sy albasters tussen die houtskool te kry.
Die gesin was Maandag erg geskok en het nie naby die afgebrande huis gegaan nie. Hulle het hul intrek by Hein se ouers op Levubu geneem. Dinsdag het hulle vlugtig deur die gebrande kamers gegaan. Klein Micayla het by haar ouma gebly. Hulle was dankbaar om op die kinders se halfgebrande geboortesertifikate af te kom. Angie het op stukke van haar Bybel afgekom. “Ek wens ek het my Bybel gegryp. Dit was my ouma s’n, ‘n New Living Translation,” het Angie gesê. Hulle het ook geen foto’s meer nie.
Hein wys ‘n brandwond aan sy arm, wat hy opgedoen het toe hy tevergeefs probeer het om hulle trou-album uit die vuur te gryp. Die mikrogolfoond was by die kombuisdeur waar hulle ontsnap het en Hein het dit op pad uit gegryp. Met die hulp van die Pretoriusse is die sitkamerstel ook uitgehaal, maar die is so van die rook dat dit nog nie bekend is of dit herstel sal kan word nie.
“Ek was eers ontsettend ontsteld dat ons alles verloor het. Ons het so hard gewerk om dit bymekaar te kry. Maar nou is ek net dankbaar dat ons almal lewe. God is met ons en Sy hand is in hierdie gemeenskap. Die mense is ongelooflik goed vir ons. Ek het nog nooit soveel gasvryheid ondervind nie,” se Angie, wat naskoolsorg by die Levubu Laerskool gee. “Mense wat ons nie eers ken nie, help ons. Ons waardeer absoluut alles, maar finansies is nou die grootste behoefte,” sê Hein. Hulle huisinhoud was nie verseker nie. Die Rudolphs soek ook ‘n tydelike of permanente huis vir hul twee rifrug- foxterrierkruising hondjies.
“Iets wat ek vir almal sal aanraai, is om ‘n vaste plek vir jou sleutels te hê en dit altyd daar te bêre. Ek wil nie hê ander mense moet ook deur die angs gaan waardeur ons gegaan het nie. Dan moet jy ook versekering op die inhoud van jou huis uitneem. Ons was nog in die proses om dit te doen,” sê Hein. Angie voeg by dat elke huis ‘n brandblusser behoort te hê.
Die Levubu gemeenskap maak alreeds hulle harte wyd oop vir die Rudolph–gesin. Pastoor Craig Whitcomb van die Levubu Christelike Gemeenskap sê dat daar by hulle al redelik klere ingekom het. Angie dra‘n 34/36 rokgrootte en ‘n nommer 6 skoen, Hein se hemde is XL of XXL en sy broekgrootte is 36, terwyl Keagan 7-8 jaar klere en ‘n nommer 1 skoen dra en klein Micayla 5-6 jaar klere en ‘n nommer 11 skoen. Die Rudolphs bedank elkeen wat hulle sover bygestaan het met enige vorm van hulp. Dit word opreg waardeer.
“Vir finansiële bydraes stel ons die kerk se rekening beskikbaar en skenkers gebruik die verwysing ‘Angie’,”sê pastoor Whitcomb. Levubu Christelike Gemeenskap se tjekrekening is by ABSA Louis Trichardt, nommer 1000 144 912. Pastoor Whitcomb kan geskakel word by 084 400 8947.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
