

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 November 2003
LEVUBU – Groot lof is die afgelope week uitgespreek teenoor lede van die Soutpansberg Kommando vir hul betekenisvolle bydrae tot die arrestasie van die bendeleier wat na bewering verbind word met 'n reeks uiters gewelddadige misdade in die streek.
Bethuel Mulaudzi (19), die beweerde bendeleier, en 'n makker van hom, Takalani Musetsho (20), is tydens 'n gesamentlike operasie deur lede van Zoutpansberg Kommando, supt. J.J. Snyders (Area Speurhoof van Thohoyandou) en supt. Nardus Becker (SAPD Stasiebevelvoerder op Levubu) aangekeer. Die arrestasies volg nadat lede van die Eenheid vir Ernstige Geweldsmisdaad geen vordering kon maak met die saak nie. In daardie stadium het supt. Snyders besluit om die hulp in te roep van Soutpansberg Kommando om hom behulpsaam te wees in die ondersoek. Persone wat betrokke was by die ondersoek sê dat die enigste bydrae wat die Eenheid vir Ernstige Geweldsmisdade gemaak het, was om die ondersoek "In die wiele te ry deur ongetoetste, onbevestigde en misleidende inligting op te volg." So het hulle die ondersoek ondermeer verskuif na Groblersdal, daarna na Nancefield en toe weer na Soweto. Intussen het die verdagtes is die saak vrylik voortgegaan om te roof en te moor in die omgewing van Kwekwe, Tsianda en Tshakuma.
Beide Mulaudzi en Musetsho het reeds in die hof op Makhado (Louis Trichardt) verskyn. Hul saak is uitgestel na 28 November.
Intussen het Mulaudzi reeds aan die polisie erken dat hy betrokke was by die moord op mnr. Piet de Jager van Levubu, asook die voorafgaande aanvalle op mnre. Johan de Wilde en Fritz Wagner. Mulaudzi het ook kort na sy arrestasie uit vrye wil die name van sy ander makkers aan die polisie verskaf wat by 'n reeks misdade, insluitend gewapende roof en moord, betrokke was. Tot op hede is altesaam dertien verdagtes aangekeer. Buiten vir Mulaudzi en Musetsho, kan die name van die ander elf verdagtes nie bekend gemaak word nie, aangesien dit dalk die polisie se ondersoek kan belemmer.
Die arrestasie van die verdagtes kom as uiters goeie nuus vir 'n nou reeds misdaad-moeë gemeenskap. Mnr. Herman de Jager, seun van die vermoorde mnr. Piet de Jager en lid van Soutpansberg Kommando, praat met hoë lof van supt. Snyders. Hy sê dit is 'n persoon wat ten spyte van baie struikelblokke steeds gefokus gebly het. Mnr. De Jager sê hy is dankbaar dat daar nog sulke mense in die polisie. Ook vir supt. Becker het mnr. De Jager baie lof en sê dat dit merkwaardig is om te sien hoeveel hy bereik het in die kort tydperk vandat hy beheer oorgeneem het by die stasie. Die vorige stasiebevelvoerder is onder ietwat verdagte omstandighede vanaf die stasie verplaas, vanweë 'n stygende misdaadsyfer en die polisie se totale onvermoë om die probleem te bekamp.
Die arrestasie van die verdagtes, waarby die kommando 'n beduidende rol gespeel het, kom te midde van die regering se voortgesette pogings om die kommandostelsel af te skaf. Ses weke na mnr. De Jager (sr.) se dood is daar nog niemand aangekeer nie. Agt dae nadat die kommando betrokke geraak het op versoek van supt. Snyders, het daar dertien arrestasies gevolg

ADVERTISEMENT:
