

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 December 2010
‘n Nuwe roete word vir die N1 by Musina beplan. Bouwerk aan die nuwe pad kan oor ‘n bietjie meer as ‘n jaar begin, as alles gunstig verloop.
Die N1 sluit tans aan by die dorp se hoofstraat, met alle N1-swaarverkeer wat reg deur die sentrale sakegebied beweeg.
Die nuwe beplanning maak voorsiening vir ‘n pad wat die N1 suid van die dorp met die N1 aan die noordekant van die dorp sal verbind, langs ‘n roete wes van die bestaande hoofweg. Aan beide die suide- en noordekant sal verkeer vanaf die N1 steeds toegang hê tot die dorp se hoofstraat.
Die Suid-Afrikaanse Padagentskap Beperk (SANPAB) se Bestuurder: Beplanning en Konstruksie, mnr. Willem van der Merwe, het vandeesweek by navraag besonderhede van die beoogde nuwe pad verstrek.
Suid van die dorp sal die nuwe pad net voor die padaansluiting van die militêre basis aan die westekant van die dorp verbygaan. Suid van Harperweg sal die nuwe pad deur onontwikkelde gebied gebou word. Noord van Harperweg sal die nuwe N1 tussen Nancefield Uitbreiding 8 (Freedompark) aan die westekant en Nancefield Uitbreidings 1 en 2 aan die oostekant deur loop, met ‘n verbindingsoorgang op Freedomweg.
Volgens die eerste aanduidings word die planne in die plaaslike gemeenskap gunstig ontvang. Die woordvoerder van die Musina munisipaliteit, Mnr. Wilson Dzebu, het by navraag gesê dat die nuwe pad groot verligting sal bring vir die groeiende dorp, omdat die dorp se strate nie die geweldige druk van die groot volumes verkeer en swaar vragmotors kan dra nie.
"Dit sal ook meehelp tot meer effektiewe verkeersvloei in die sentrale sakegebied," het hy gesê.
Prominente sakeman mnr. Jayson Rana het by navraag gesê die herleiding van N1 verkeer sal noodwendig ‘n invloed op die sakegemeenskap hê. Hy het egter die beplanning as ‘n verstandige stap beskryf, wat veral die huidige veiligheidsrisiko kan verminder ten opsigte van gevaarlike swaar vragte wat deur die middel van die dorp moet beweeg. “As een van die swaar tenkwaens met gevaarlike vragte in ‘n ongeluk in die middel van die dorp betrokke sou wees, sal ‘n ramp onvermydelik wees,” het hy gesê.
Beplanningsbesonderhede van die nuwe pad is tydens openbare raadplegingsvergaderings op die dorp verstrek, as deel van die omgewingsimpakstudie wat tans onderneem word. Die spesialis omgewingstudies behoort in Januarie 2011 voltooi te wees. ‘n Verslag oor die bevindings sal gedurende die eerste helfte van die jaar aan die departement van omgewingsake voorgelê word. Eers daarna sal die beplanningsontwerpe gefinaliseer kan word.
Van der Merwe sê die aanvang van bouwerk aan die pad sal onder meer afhang van die ekonomiese uitvoerbaarheid van die projek.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
