

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 December 2010
´n Kennisgewing vanaf Trillionix Investments dat hulle op die plaas Studholme en ander plase op die Witvlagpad vir minerale wil prospekteer, het groot kommer onder lede van die omliggende plaasgemeenskap veroorsaak.
Die plaas Studholme, wat na bewering staatsgrond is, grens aan mnr. Louis Linde, skoolhoof van Laerskool Louis Trichardt, en prof. Koos van Rooy, bekende inwoner van die dorp, se plase. Hierdie area bevat ´n groot diversiteit inheemse fauna en flora en argeologiese terreine.
Mnr. Johan Kruger van die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme het die area ´n rukkie gelede besoek en na evaluering besluit om dit tot ´n beskermde area te laat verklaar, omdat hy die waarde van die grond raakgesien het. Die proses is egter nog aan die gang. Hy sê dat mens nie regtig iets aan die prospekteringsproses kan doen nie, maar dat dit wel baie skadelik sal wees vir die area en sy diverse spesies as hulle wel iets kry om te myn. As die gebied egter tot ´n bewarea verklaar was, sou die prospektering nie goedgekeur word nie. Trillionix se versoek is egter deur die Departement van Minerale Hulpbronne goedgekeur.
Mnr. Jacs van Rooy van Shangoni Management Services in Pretoria, wat prof. Van Rooy in die saak verteenwoordig, sê dat volgens die Minerale en Petroleum Hulpbronne Ontwikkelingsakte van 2002, ´n maatskappy die eienaar van ´n plaas ten minste 30 dae moet gee om op die prospekteringskennisgewing te reageer. Trillionix het prof. Van Rooy egter een dag gegee om hulle te beantwoord. Hy het ook beklemtoon hoe mynbou ´n onomkeerbare impak op hierdie area sal hê en hoe die plaas nie toeganklik is vir daardie tipe masjinerie nie.
"Hulle het nie ´n behoorlike impakstudie gedoen voor hulle besluit het om te prospekteer nie," het mnr. Linde oor Trillionix Investments gesê. Hy het ook uitgelig dat dit onlogies is om ´n mynbedryf op dié plaas te ontwikkel, omdat dit bo in die Soutpansberge is. Boonop het die gebied ´n biodiversiteit wat noodsaaklik is vir die Soutpansberg biosfeer.
Intussen is boere in die Roedtan-distrik woedend omdat prospekteerregte op hul plase toegeken is aan Chancellor House Mineral Resources (CHMR) sonder dat hulle daaroor gekonsulteer is. CHMR, wat ´n filiaal is van Chancellor House, die ANC se frontmaatskappy vir beleggings en geldinsameling, het ´n lisensie om op 41 plekke in hierdie omgewing vir steenkool, kobalt, goud, yster, mangaan, nikkel, fosfaat en platinum te prospekteer. Me. Marie Helm, ondervoorsitter van TLU SA Noord, het gesê tot 4 000 prospekteer- en mynlisensies is in Limpopo toegeken, baie daarvan sonder behoorlike konsultasie met boere.
"Dit gebeur heeltyd dat lisensies toegeken word sonder behoorlike konsultasie. As dit nodig is, gaan ons hof toe," het me. Helm gesê.

ADVERTISEMENT:
