ADVERTISEMENT:

 

Welkome reën sak oor streek uit

 

News  Date: 05 March 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Welkome reën wat in Februarie uitgesak het oor groot dele van die Soutpansberg-distrik het verligting gebring en 'n nuwe optimisme by boere in die hele gebied.

Mnr. Dries Joubert, voorsitter van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie, sê dat selfs die kolle noord van die berg wat in Januarie nog swak vertoon het, nou ook verbeter het.

"Landboutoestande lyk op die oomblik baie goed en bekommernisse is vir eers eenkant toe geskuif," sê mnr. Joubert, nadat boere op Waterpoort verlede week tussen 20mm en 80mm gemeet het, en op Alldays tussen 50mm en 80mm geval het. Wild- en veeboere in die droogtegeteisterde gebiede noord en suid van die berg het verligting gekry.

Die Levubu-omgewing baat veral by die goeie neerslae. Levubu het in Februarie 'n reënval van 192,9mm gehad, volgens die gegewens van die Suid-Afrikaanse Weerburo se kantoor in Polokwane. Lieflike neerslae van 44mm, 56mm en 48,5mm is op Levubu aangeteken op 24, 25 en 27 Februarie.

Die syfers wat die Weerburo se Pretoria kantoor ontvang het vir Februarie, is 134,5mm vir Mara, 31,4mm vir Tshipise en 31,2mm vir Musina.

In Februarie is 53,1mm vir Louis Trichardt aangeteken by die Polokwane kantoor en net onder 50mm by die munisipale reënmeter. Op ander plekke in Louis Trichardt het inwoners tot oor 'n 100mm reën vir Februarie gemeet.

Reënweer het ook Maartmaand ingelui. Teen Woensdagoggend, 3 Maart, het die Makhado Munisipaliteit by hul reënmeter alreeds 27, 5mm vir die eerste paar dae in Maart gemeet. Daar word met verwagting uitgesien na 'n draaipunt in die Albasinidam se vlak, wat op 16 Februarie op 44,24% gestaan het en op 2 Maart op 43,0%.

Veral boere in die hele gebied vertrou dat die goeie reën sal aanhou sodat die ondergrond voor die winter baie goed nat sal wees.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines