

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 December 2010
Mnr. Bertus Geerdts van Louis Trichardt het homself Sondag skielik aan die verkeerde kant van die gereg bevind, nadat hy en sy vrou gestop het om foto’s te neem van hoe drie munisipale verkeersbamptes na bewering ‘n vrou aanrand.
Geerdts het Maandag, ná sy verskyning in die hof op Louis Trichardt op klagte van aanranding, vertel hoe hy en sy vrou, Nettie, Sondag omstreeks 11:00 in Songozwistraat na die nuwe Checkers gery het. In dié hoofstraat, sê Geerdts, het hulle gesien hoe drie munisipale verkeersbeamptes ‘n vrou rondstamp. Die vrou en haar man het pas ‘n kaartjie gekry omdat hulle op ‘n laaisone geparkeer het en ‘n woordewisseling het ontstaan of dit toelaatbaar is om Sondae op ‘n laaisone te parkeer.
Die Geerdts-egpaar het gestop en Nettie het uitgeklim en begin foto’s neem.
“Toe storm hulle [verkeersbamptes] haar, gryp haar en begin haar rondpluk. Toe spring ek uit die kar uit om haar te gaan help,” vertel Geerdts. Hulle wou met alle mag en mening die kamera by Nettie afvat.
Geerdts sê hy het die een vrouebeampte van sy vrou afgeruk.
“Die volgende oomblik blaai sy my deur die gesig met ‘n plat hand”.
In geen stadium, sê Geerdts, het hy die beamptes geslaan nie.
Geerdts het sy vrou teruggekry in hul voertuig.
“Toe ek wil inklim, gryp hulle al drie my,” sê Geerdts.
Geerdts het die beamptes met sy deur weggestamp en huistoe gery. Nodeloos om te sê, die beamptes is agterna. By hul huis aangekom was daar binne minute ook vier polisievoertuie.
Vanaf Geerdts se huis is almal polisiestasie toe.
“Hulle het ons in ‘n klein kamertjie in en daar het hulle ons intimideer dat ons nie ‘n saak moet maak nie,” sê Geerdts. Die “hulle” waarvan hy praat was vier polisiebeamptes en die drie verkeersbeamptes. Die hele tyd wou die polisie en verkeerskonstabels weet waar Nettie se kamera is, sodat hulle die foto’s kan “destroy”.
Te midde van die erge intimidasie, vertel Geerdts, het sy vrou ‘n asma-aanval gekry en paniekerig begin raak.
“Toe wou hulle haar nie eers laat uitgaan nie,” sê Geerdts. Hy beweer dat hulle met onmiddellike arrestasie gedreig is, sou hulle dit durf waag om ‘n klag teen die beamptes te lê.
Einde laaste, sê Geerdts, is daar besluit dat nie hy of die verkeersbeamptes klagte sal lê nie. Hulle wou net wegkom vanaf die polisiestasie. Geerdts en sy vrou is toe huistoe.
Groot was Geerdts se verbasing egter toe daar omstreeks 18:00 dieselfde dag ‘n polisiebeampte by sy voordeur opdaag. Hy is gevra om hom na die polisiestasie te vergesel om aangekla te word. Dit het gevolg nadat die polisie toe wel die verkeersbeamptes se klag aanvaar het. Gelukkig is hy nie toegesluit nie, maar hy moes Maandag in die hof verskyn. Sy saak is uitgestel tot 21 Janurie.
“Alles het gegaan oor die foto’s. Hulle soek nou nog die foto’s,” het Geerdts gesê. In die proses is die Geerdts-egpaar, volgens hulle, aangerand en geïntimideer om nie ‘n saak te maak nie. Op die ou end word net Geerdts toe aangekla.
By navraag oor die voorval het munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, ‘n heel ander prentjie geskets. In breë stem beide partye se stories oorheen, behalwe dat die verkeersbeamptes beweer dit is Geerdts wat hulle aangerand het.
Volgens Bobodi het die beamptes gesien Geerdts se vrou neem foto’s en het bloot oorgestap om haar te vra om op te hou daarmee. Volgens Bobodi het ‘n hewige argument gevolg.
“Die vrou [Nettie] het daarop aangedring dat sy die reg het om foto’s te neem. Klaarblyklik het die vrouebeamptes haar [Nettie] teruggestamp,” het Bobodi gesê. Dit is toe, sê Bobodi, dat Geerdts tussenbeide getree het en die vrouebeampte na bewering geklap het. Bobodi het verder gesê, volgens die verkeersbamptes se weergawe, dat Geerdts daarna probeer het om oor die vrouebeampte se voete te ry en dat hulle uit die pad moes spring.
Hy beweer verder dat slegs Geerdts ingestem het om nie klagte te lê nie.
“Ons beamptes het besluit om klagte te lê,” het Bobodi gesê.
Volgens die inligting tot hul beskikking, sê Bobodi, het hul munisipale beamptes niks verkeerd gedoen nie.
“Dit gesê, beteken dit nie dat ons nie die saak verder gaan ondersoek nie ... Sou hulle [verkeersbeamptes] verkeerd opgetree het, sal die gepaste stappe teen hulle geneem word,” het Bobodi gesê. In die lig van die onsmaaklike gebeure het Bobodi die publiek, asook hul eie verkeerspersoneel, versoek om mekaar met respek te hanteer. Beide partye, sê hy, moes hul humeure beteuel het.
Die polisie is ook gevra om kommentaar te lewer op die beweerde intimidasie van die Geerdts-egpaar by die polisiestasie. Provinsiale polisiewoordvoerder, Kol. Ronel Otto, het Dinsdag ontvangs erken van die navrae, maar het Woensdagoggend aangedui dat hulle, weens nasionale kommissaris Bheki Cele en die Minister van Polisie, Me MM Sotyu, se besoek aan Polokwane hierdie week, nog te besig was om aandag aan die vrae te skenk. Otto het onderneem om volgende week te reageer.
Intussen het Geerdts regsadvies ingewin. Teenklagte van aanranding sou ook teen die verkeersbeamptes gelê word.
“Hier is ten minste drie tipes sake wat hieruit gaan spruit. Die een is die feit dat hy reeds aangekla is. Die ander een is dat hy gaan klagte lê en die Staat sal moet besluit of hulle daardie ouens gaan vervolg en derdens is ek oortuig daarvan dat hy ‘n siviele eis het teen die amptenare en die munisipaliteit,” het mnr. Cerneels Kern, Geerdts se regsverteenwoordiger, Dinsdag gesê.
“Ek voel baie ernstig daaroor. Ek het ander sake wat ek alreeds op verhoor het waar verkeersbeamptes van Louis Trichardt ouens onregmatig gearresteer het en die kliënte van my onskuldig bevind is. Ons is op verhoor in Maart volgende jaar vir ‘n siviele eis wat ons ingestel het vir onregmatige arrestasie en kwaadwillige vervolging,” het Kern bygevoeg. Die eis is teen die munisipaliteit en die betrokke verkeersbeampte. Kern het gesê daar is te veel van hierdie gevalle en dat ‘n mens dit in die ope moet bring.
“Hulle hele ding het gegaan oor die foto’s ... dit is nonsens dat mens nie ‘n foto mag neem nie,” het Kern met verwysing na Geerdts se saak gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
