

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 December 2010
Wat begin het as ´n 4x4-plesierrit het Saterdag ontaard in ´n nagmerrie vir die 21-jarige Arthur Klussmann van Louis Trichardt, nadat die viertrek-voertuig waarin hy en twee vriende gaan ry het, omgeslaan het.
Arthur word sedert Saterdagaand in die intensiewe sorgeenheid van die Montana Netcare Hospitaal behandel. Hy is gedeeltelik verlam en sal eerskomende Sondag in die hospitaal sy 22ste verjaardag vier.
Arthur en sy vriend, Robbie Hatting, en dié se eggenote, Dorota, het Saterdag uitgery na Entabeni op die Witvlag-pad. Robbie wou vir Dorata van die plaaslike natuurskoon wys en het vir Arthur saamgenooi.
Daar gekom, het Dorota uitgeklim en langs ‘n stroompie gesit en haarself verloor in die natuurskoon, onderwyl Robbie en Arthur met die bakkie ‘n entjie verder gery het. Robbie het oor ‘n lae spruitwal probeer ry, terwyl Arthur genavigeer het. Die bakkie was halfpad teen die wal uit, toe die voorwiele in die nattigheid begin gly het.
Arthur het skaars vir Robbie gewaarsku dat hulle besig is om te gly, toe die bakkie begin omkeer. Met die rolslag het die bakkie op sy dak te lande gekom en daar word vermoed dat ‘n klip Arthur teen sy nek en kop moes getref het. Dit sou later aan die lig kom dat hierdie slag sy hoof vaskulêre slagaar beskadig het. Aanvanklik wou dit voorkom of die skade en beserings nie te ernstig was nie.
Arthur was die eerste een om oor die ergste skok te kom en het vir Robbie uit die omgekeerde bakkie getrek. ‘n Glasstuk het Robbie aan sy been gesny en daar was bloed orals. ‘n Hoogs-onstelde Dorota het tevergeefs met haar selfoon probeer om hulp te ontbied, maar al drie se selfone was buite die opvangsgebied.
Dit het Arthur genoop om ‘n ent verder aan te stap in ‘n poging om beter opvangs te soek. Nadat hy nog ‘n vriend, Riaan Engelbrecht, in die hande gekry het en hulp ontbied het, het hy inmekaar gesak.
Riaan en lede van die Soutpansberg Dorpswag het op hom afgekom toe hulle op die toneel gearriveer het. Alhoewel Arthur by sy volle bewussyn was, het Riaan besef sy vriend het baie ernstig seergekry. “Ek kon sien daar was iets fout met Arthur,” het Riaan Maandag vertel. “Sy mond was skeef aan die linkerkant en dit het gelyk of hy ‘n beroerte-aanval gehad het.”
Nadat Arthur in Riaan se bakkie gelaai is en Robbie se been met ‘n verband gelap is, is daar deurgejaag dorp toe. Die sny aan Robbie se been is later met ses steke geheg, maar andersins was hy ongedeerd.
By die Zoutpansberg Privaathospitaal is Arthur se toestand gestabiliseer, waarna hy oorgeplaas is na die Montana hospitaal. Hy is sedert 02:00 daardie aand in die intensiewe sorgeenheid.
Arthur se ma, Nina, het Maandag gesê dat sy toestand vir die volgende vyf dae kritiek sou wees, maar dat dit onder die omstandighede goed gegaan het. Arthur se regterkantste vaskulêre slagaar is met die ongeluk erg beskadig, wat veroorsaak het dat die bloedtoevoer na sy brein belemmer is.
“Sy dokters probeer nou eers die are herstel, voordat hulle sal voortgaan met ander behandeling,” het Nina gesê.
Ten spyte van die medikasie, herken Arthur sy ouers en kan hulle nog gesels. “Dit gaan net ‘n bietjie stadig met die verlamming saam, maar ons is bly dat hy ons herken.”
Arthur sal tot Vrydag fyn dopgehou word, juis omdat die beskadigde aar hom meer vatbaar maak vir beroerte-aanvalle.
Ronnie, Arthur se pa, het egter gesê dat alhoewel dit ‘n moeilike tyd is waardeur die familie gaan, hulle steeds hoopvol is dat die verlamming nie permanent is nie.
Beide Nina en Ronnie het almal bedank vir hulle oproepe en boodskappe van bemoediging.

ADVERTISEMENT:
